Adrian Vigus-Brown wou van jongs af in die kombuis wees en sê die nuwe postitel pas hom soos ’n handskoen.
Maryke Roberts
Die 25-jarige Adrian Vigus-Brown is pas bevorder tot Chef de Cuisine by die African Pride Melrose Arch Hotel en het ’n span van 28 mense.
RESEP Adrian se lamslende toegerol in Parmaham
1. Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
Romanse – wat is dit?
2. Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Karoo-lamsrak, net een been, met ’n stadig-geroosterde lamskouer-kroket, wilde witwortel-puree, soetgestoomde seldery, oondgeroosterde babawortels en geroosterde witwortel.
3. Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?
My beeskortrib wat oornag in die oond gerooster word. Ek bedien dit met murgpampoen-puree, geroosterde botterskorsie, vinkel en “aangebrande” babaworteltjies.
4. Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?
Ontspanne, ongekompliseerd en maklik.
5. Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
Wow – omtrent alles wat ek in my eerste jaar as sjef-leerling gemaak het. Dit was óf sleg, óf doodgegooi met spesery, óf net bloot oneetbaar!
6. Dek jy mooi tafel met kerse en blomme en naambordjies, of hou jy van informele bediening?
’n Tafel moet altyd formeel gedek wees. Dit skets die prentjie en skep verwagting van die goeie kos wat volg. Blomme moet eenvoudig wees en nie die tafel oorheers nie.
7. Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma en oupa?
Rabarber en kaneel
8. Watter drie bekende mense sal jy vir aandete nooi en hoekom?
Die koningin van Engeland, net omdat sy die koningin van Engeland is; Marco Pierre White – die moderne “Godfather” van kookkuns, want hy inspireer my, en Billy Gallagher – die lewenslange ere-president van die Suid-Afrikaanse Sjefs Assosiasie en die Wêreld Assosiasie van Sjefgenootskappe, want hy is ’n mentor vir my.
9. Wat is trooskos vir jou?
Spaghetti bolognaise – my ma maak die beste spaghetti bolognaise ooit!
10. Wat is jou lewensleuse?
Ek sal eerder onthou wil word as ’n sjef wat onthou het ek is ’n kok, as ’n kok wat gedink het hy is ’n sjef. Jy is wat jy eet, so eksperimenteer!
11. Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie?
Tiemie, roosmaryn, salie. Sout en peper moet oordeelkundig gebruik word.
12. Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Sampioen-sojasous.
13. Wat is jou gunstelingkookboek?
Larousse Gastronomique
14. Wat is jou doodsonde met kos?
Bovril en kaas
15. Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai?
Vra jou Afrikaanse vriend om dit te doen – ek is ’n Ingelsman.
16. Wat is jou gunstelingkosbestemming?
Daar is natuurlik net een plek, die March Restaurant by die African Pride Melrose Arch Hotel!
17. Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?
Ek eet nie vis nie, maar ek berei enigiets waarvoor my gaste lus is.
18. Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
Meerlust Merlot en saam met enige grasvretende, vrylopende bief, verkieslik van my gunsteling-slaghuis, Braeside Meat Market, in Parkhurst, Johannesburg. Dis die beste slaghuis in die land.
• Bespreek by March Restaurant in Melrose Square, Melrose Arch, Johannesburg, by (011) 214-6666 of [email protected]
SOURCES
Verskaf