Vickie de Beer is die afgelope 13 jaar die kosredakteur van rooi rose, maar haar liefde vir kook kom van haar ma af.
Maryke Roberts
Sy het ‘n professionele sjefsdiploma van die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch en al saam met mediese fondse aan gesonde resepte gewerk, maar dis die kookboek, The Low-Carb Solution for Diabetics wat sy saam met die dieetkundige, Kath Megaw, geskryf het, wat onlangs by Quivertree Publications verskyn het, wat nou tonge laat klap. Die boek se kombinasie van wetenskap, praktiese advies en heilsame resepte, uit die oogpunt van toegewyde ouers, maak dit baie gewild.
Vickie het al verskeie toekennings gewen vir haar werk, maar toe haar seun Lucca op agtjarige ouderdom met Tipe 1 diabetes gediagnoseer het, het hul hele huishouding se eetpatrone begin verander. Sedert Lucca hierdie leefstyl volg, is sy gesondheid aansienlik beter en kry hy kans om ‘n bykans normale tienerlewe te lei.
Die boek stel ‘n wegbeweeg van geprosesseerde kos, te veel suiker en koolhidrate, vir die hele gesin voor.
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en wie het jou belangstelling geprikkel?
Beslis my ma, sy was ‘n bekwame kok en het altyd met nuwe resepte eksperimenteer. Sy het ook duisende kosbare resepte versamel en getoets.
Hoe het jul huishouding verander nadat jou seun gediagnoseer is?
Dit verander baie wanneer jou kind met tipe 1 diabetes gediagnoseer word. Veral in die begin oorheers die bestuur en “admin” van die inspuitings en glukosetoetse mens se lewe. Later raak mens meer gewoond daaraan, maar dit bly nogsteeds iets wat ons op elke oomblik van elke dag moet in ag neem.
Dis nou 7 jaar later, maar jy het intussen sy dieet verander wat hierdie boek tot gevolg gehad het?
Ja, ons het verlede jaar ons dieet verander na ‘n lae koolhidraat dieet – dit beteken ons neem slegs 30g-50g koolhidrate per dag in. Die koolhidrate verkry ons deur veselryke groen groentes, sade en bessies.
Hoe het die idee vir ‘n resepteboek gekom?
So ongelooflik baie mense sukkel om diabetes te bestuur. Suikers is wisselvallig en dit ly tot komplikasies later in hul lewens. Ek wou graag ons reis na lae koolhidrate met mense deel, omdat dit Lucca se lewe só positief verander het. Ek het ook ‘n magdom nuwe resepte gehad wat ek getoets en ontwikkel het vir ons gesin – en ek wou dit ook graag deel.
Wat was die romantieste maal wat jy nog geniet het?
Ontbyt in Parys met my man, Joe, twee jaar gelede. Ek het gedink die Michelin etes sal die romantieste wees, maar om op ‘n Paryse systraat, vroegoggend koffie en ‘n baguette met die beste omelette op aarde met my man te eet, was fantasties.
Wat is jou terugval dis as jy vinnig iets moet kook?
Ek druk die vleis uit organiese varkworsies en maak só blitsige frikadelle. Dit bedien ek in ‘n Italiaanse tamatiesous met “zoodles” (zucchini wat in repies gesny is en blitsig gekook is).
Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?
Grootmaat! Ha, ha , die seuns eet baie en gereeld, so alles wat ek maak moet baie kan maak. Ook omdat ons nogal staatmaak op oorskiet om die volgende dag se kosblikke vol te maak.
Wat is vir jou belangrik by die bediening van kos?
Samesyn om die tafel lekker lag en gesels, die res maak nie saak nie….maar ek hou van mooigoed, mooi Franse linne, silwer eetgerei- maar dis sommer ekstra, die kersie op die koek!
Watter kosreuk herinner jou aan kinderdae?
Varsgebakte brood laat my na my ma verlang en kaneel na my pa – hy het altyd die lekkerste souskluitjies gemaak.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?
Marco Pierre White (Bekende Britse chef), Prof Tim Noakes, Brad Pitt (daar moet iets vir die oog wees!)
Wat sal op die spyskaart wees?
Klassieke geroosterde hoender, aspersies met Hollandaise……gebakte (lae koolhidraat) vla met bessies.
Wat is trooskos vir jou en hoekom?
Interessante vraag – my kop het nogal geskuif oor trooskos. Ek dink ons troos onsself te maklik met kos en dit kan lei tot “emosionele oor-eet”. Trooskos was beslis goed soos pannekoeke en vetkoek- …koolhidrate!!!
Met dié dat ons nie meer koolhidrate eet nie, is die “algemene” of “bekende” trooskos nie meer deel van ons dieet nie. Ek probeer ander oomblikke van onthou vir my kinders skep, wat nie aan kos verbonde is, soos ‘n stap in Jonkershoek of om ‘n bordspeletjie saam met hule te speel….
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie?
Loerierblare – die aroma en geur van loerierblare geur enige iets van ‘n bredie tot ‘n kerrie. Ek sit ‘n hele paar blare in die holte van ‘n heel hoender en rooster dit – dit gee soveel geur. Of rooster ‘n varklies op ‘n bed van loerierblare – asemrowend. Skaf dadelik ‘n boom aan.
Wat is jou lewensleuse?
Aanhou beweeg en geraas maak! Nee, eerder, iets wat ek jare gelede as jong student gehoor het:
“Focus on the job at hand and the rest will follow!”
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Roketblare – ‘n handjie rocket met ‘n bietjie olyfolie en balsamiekasyn oorgesprinkel.
Wat is jou gunsteling kookboek?
Dit onmoontlik om te beantwoord ek het honderde en ek hou van hulle almal.
Wat is jou doodsonde met kos?
Seker maar hoe baie botter ek in kos gebruik – ek gaan maklik deur 3 blokke ‘n week.
Wat is jou een geheim vir ‘n lekker somerslaai?
‘n Goeie slaaisous – klassieke Franse sous met mosterd, knoffel, heuning, olyfolie en asyn.
As jy op ‘n Sondagaand onverwags gaste kry, wat sal jy vir hulle maak?
‘n Groot kaasbord met bessies en lae koolhidraat beskuitjies; ons sal dadelik ‘n vuurtjie aansteek en braai wat ookal in die yskas is. Ek sal ‘n verskeidenheid groente soos aspersies, fyn franse boontjies en brokkolini gaarmaak, ‘n groot slaai en miskien iets soos ‘n pesto aanmekaar slaan.
Wat is jou gunsteling kosbestemming?
Parys of Rome of New York – ek kan nie kies nie!
Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?
Lewertjies. Siestog, Joe is so lief daarvoor. Ek maak net lewerpatee – vir die res gril ek.
Wat is jou gunsteling wyn en met watter dis drink jy dit graag?
Ek hou van witwyn en rooiwyn en ek drink dit saam met alles. Nee, grappies op ‘n stokkie, Avondale se wyne is vir my baie lekker en omdat dit organies is, bevat dit minder sulfiete.
Watter kortpad wat laag in suiker en koolhidrate is, het jy ontdek wat jy met lesers kan deel?
Lucca se gunsteling Avokado roomys. Jy gebruik 2-3 avo’s, 500ml room, 100ml kakoa, 90 ml xylitol en verwerk alles in die voedselverwerker en in ‘n houer in die vrieskas. Heerlik!
Wat is jou gunsteling kombuisgereedskap?
My Magimix – ek gooi alles daarin.
Hoe voel jy oor botter en eendvet?
Fantasties- hoe meer hoe beter!!
Watter boek is volgende?
Ons wil graag ‘n lae koolhidraat resepteboek uitbring vir die algemene publiek – nie so gefokus op diabete nie – omdat almal se gesonheid kan baat by ‘n lae koolhidraat dieet.
Hoe gemaak met alkohol en gewig dophou?
Kies eerder droë witwyne en maak ‘n spritzer daarvan met baie ys en sodawater. Dis lekker veral nou in die somer.
Vickie se resep vir amandel-en-jogurtplaatkoekies
Genoeg vir 4
Bestanddele
500 ml (2 k) amandelmeel (gemaalde amandels)
Knypie sout
2.5 ml (1/2 t) bakpoeier
2.5 ml (1/2 t) kaneel
4 eiers
10 ml (2 t) xylitol
125 ml (1/2 k) jogurt
Botter vir braai
Metode
Meng al die droë bestandele saam in ‘n groot mengbak. Klits die eiers, xylitol en jogurt saam in ‘n ander mengbak. Meng die droë bestandele by die nat bestandele en meng goed saam.
Verhit die botter in ‘n kleefwerende pan oor matige hitte. Skep groot eetlepelsvol van die mengsel in die pan (braai so 3-4 op ‘n slag) en braai vir 3-5 min. of totdat daar borrels aan die bokant verskyn. Draai om braai vir nog 2 min. of tot goudbruin in kleur. Bedien met vars bessies en room.
SOURCES
verskaf