Leeu House, ’n 5-ster boetiekhotel in die hartjie van Franschhoek, het op 1 Desember hul deure geopen en die uitvoerende sjef van Leeu Estates en Leeu House is die gevierde sjef, Oliver Cattermole. Leeu House is deel van Analjit Singh en sy span se Leeu Collection-portefeulje.
Maryke Roberts
Oliver het in van die beste restaurante in die wêreld gewerk, waaronder drie van Londen se beste restaurante: Michelin-ster Le Gavroche, die gevierde The Ivy Restaurant, asook in die bekende sjef, Jean Christophe Novelli se restaurant, Novelli in die City by die London Capital Club.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Simplistiese elegansie met ‘n sterk klem op die bestanddele, minimale inmenging met maksimale geure.
Wat was jou hoogtepunt as sjef?
Om deel te wees van die span wat vir ‘n San Pellegrino Top 50 aandete by The Ivy in Londen vir verskeie presidente en eerste ministers gekook het. En ook om vir vele Londen Fashion Weeks te kook.
Wat is jou gunstelingrestaurant?
Foliage in Franschhoek – Chris is ‘n genie in die kombuis, dan gevolg deur Dabbous in Londen met Empellon in New York kort op hul hakke.
Wat is ‘n algemene fout wat tuiskokke maak?
Mens moet dit eenvoudig hou. Onthou as jy na ‘n restaurant gaan, is daar ‘n hele span wat regstaan, skoonmaak en berei. As jy tuis op ‘n paar basiese geregte fokus, kan jy ook die aand met jou gaste geniet, sonder om pootuit te wees en heel aand rond te hardloop.
Wat is jou gunstelingkosbestemming?
Viëtnam, want die mense het passie vir alles. Ek het al baie lekker tye daar deurgebring. Die kos is heerlik met lieflike geure, maar eenvoudige disse wat so vol geur is, dit smaak soos hemel in jou mond.
Wat is jou gunstelingdrankie?
Dit hang van die geleentheid af. ‘n Paar koue biere ná ‘n besige maal is altyd lekker; ‘n brandewyn en Coke saam met vriende om die braai, of ‘n lekker bottel pinotage saam met my vrou oor aandete.
Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?
Kleefplastiek en ‘n skerp mes.
Wat is jou sjefsleuse?
Do it nice or do it twice.
Wat is jou gunsteling-kookboek?
To the bone deur Paul Liebrandt, Tacos deur Alex Stupak en The Ivy Cookbook het almal baie spesiale plekke in my versameling.
As jy onverwags gaste kry, wat sal jy berei?
Tacos en ‘n groot bak nachos met guacamole en salsa. Dis vinnig, eenvoudig en heerlik. Dit verg die minimale voorbereiding, sodat julle kan kuier en daardie koue biere geniet!
Mooiste kosaanhaling?
Just now is not 2 minutes and 2 minutes is not just now…
Wie het jou al die beste kook-advies gegee?
“Good food takes time, so no short cuts and keep your head down and graft,” en dit kom van Tim Hughes.
Wat was jou grootste kombuisflater?
Ek het sout in plaas van suiker gebruik vir ‘n suurlemoentert. Jy weet sommer dit gaan nie goed eindig nie.
Na watter sjefs kyk jy op?
Daar is vele, maar as ek ‘n paar kan uitsonder, sal dit Tim Hughes, Mark Hix, Christian George en Simon Rogan wees.
Watter reuke herinner jou aan jou kinderdae?
Die reuk van spek, wors, kaserige boontjies en koffie.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
Truth-koffiebone, Morgenster-olyfolie, Oryx-sout, Tacos en Yorkshire-mayonnaise.
Wat is jou trooskos?
‘n Warm wors-broodjie met kaas en bruin sous – die laatnag-sjefsgunsteling.
Wat is jou drome vir die nuwe restaurant?
Deurlopende goeie diens en goeie kos en gelukkige gaste wat weggaan met goeie herinneringe. ‘n Prys of twee sal ook lekker wees, maar dis nie my hooffokus nie.
Oliver Cattermole van die nuwe Leeu House, ‘n 5-ster-boetiekhotel in die hartjie van Franschhoek, se resep vir cranola-blokkies:
Bestanddele
190 g ongesoute botter
110 g demerara suiker
85 g heuning
100 g bruismeel
200 g gerolde hawermout
200 g macadamia-neute
100 g pampoensade
100 g sonneblomsade
100 g gedroogde bosbessies
Metode
Smelt die botter, suiker en heuning tot die suiker heeltemal opgelos is. Meng die meel, hawermout, neute, sade en bosbessies en voeg die bottermengsel by.
Meng goed en sit op in ‘n klein bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Druk plat met ‘n ander stukkie bakpapier.
Bak teen 180°C/gasmerk 3 vir ongeveer 17 minute tot goudbruin. Laat afkoel en sny in 4 cm-blokkies. Stoor in ‘n lugdigte houer (hulle bly vir vyf dae lekker vars).
SOURCES
verskaf