Die Durbaniet Neil Roake het onlangs die kookboek More Life’s a Beach Cottage by Jacana die lig laat sien.
Maryke Roberts
Dis die derde kookboek in ‘n reeks van die beste vakansieresepte wat gunstelinge onder sy familie en vriende is. Hy sê sy resepte wissel van “O my genade, dis maklik, ek kan dit maak” tot “liewe hemel, dit lyk moeilik” maar daar is niks fieterjasies nie, alles is heerlik en maklik.
Hy glo dat jy nie ‘n resep altyd presies moet volg nie, maar net moet gebruik as ‘n motiveerder vir jou eie kulinêre kreatiwiteit.
Sy eerste kookboek, Life’s a Beach Cottage (2007) het die Beste Braai en Buitelewe kookboek-toekenning gewen in die internasionale Gourmand Awards in 2008. Life’s a Beach Cottage: Second Helpings en On the Rocks – A coastal-themed cocktail book het die beste Suid-Afrikaanse fotografie kookboek-toekenning opgeraap. Shiny Happy People (2009) was ‘n versameling van Neil se vriende se gunstelingresepte en Taste Freedom het die kos van sy restaurant, Freedom Café, bevat.
Hy laat jou gou verstaan dat hy nie ‘n sjef is nie, maar ‘n selfgeleerde kok. Hy hou van ontwerp – van kos-, binnenshuise, grafiese tot modeontwerp. Alles is vir hom geïntegreer. Hy glo almal kan meesterkokke wees, as jy jouself net toelaat om te skep.
1. Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Baie ontspanne. Ek hou van familie-styl borde wat gedeel kan word, maar elke nou en dan hou ek van moeite doen en mooimaak.
2. Watter vyf bestanddele sal ek in jou koskas kry as ek sou loer?
Liefde, passie, energie, siel en geur.
3. Wat was ‘n groot hoogtepunt vir jou as sjef?
As ek dalk vir iemand bekends gekook het, sou ek dit nie wou uitlap nie, want dis ‘n privaat oomblik vir die gaste – en ek respekteer dit. Meeste bekendes is net normale mense wat lekker kos met baie geure verkies, maar sonder die fieterjasies. Die sjef moet dit diskreet laat gebeur, sonder al die hoe-ha!
4. Watter reuke herinner jou aan jou kaalvoet dae?
Pasteie wat bak. My ouers bak pasteie vir hul daaglikse brood – vandag nog: my pa is 83 en my ma 78 en hulle maak elke dag tussen 50-60 tuisgemaakte pasteie met handgerolde deeg!
5. In watter kos vind jy troos?
Beesstert met botterbone en wortels wat 5 uur lank gekook het, op soetpatat-mosterd-mash.
6. Lig een ding uit wat tuiskokke baie gereeld ‘verkeerd’ doen
Om te probeer om die kos op te dien. Jy bring soveel tyd in die kombuis deur, dat jy al die lekker gesels en wyn mis. Doen lekker groot borde wat almal kan deel en saam geniet.
7. Wat bestel jy as jy gaan uiteet?
Dit hang van die restaurant af. As ek die sjef ken, vra ek gewoonlik dat hulle een van hul spesialiteitsdisse op die spyskaart berei.
8. Wat is tans jou gunstelingrestaurant?
Green Parrot in Durban-Noord wat ‘n interpretasie van ‘n Japanese Isikaya is. Hul Caesar-slaai is glad nie soos die verwagte Caesar-slaai nie, maar perfek… hul kos is oorspronklik en stel mens tevrede.
9. As jy ‘n drankie kon wees, wat sou jy wees?
Nigroni…. ‘n bitter kombinasie van jenewer, campari en rooi vermouth.
10. Wat is jou beste kosbestemming?
Bangkok! Ek kan nie genoeg kry van die straatkos én die innoverende, kreatiewe eetplek-ruimtes wat deur die Thai geskep word nie. Dis soos ´n never ending summer.
11. Watter kos maak jou vriende of familie waaroor jy gereeld kwyl?
My vriendin, Kate, maak vir ons bottels vol van die beste Mazavaroo-brandrissiesous.
12. Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?
My goedkoop aartappelskiller van Food Lover’s Market. Dit skil enigiets van ´n hardnekkige botterskorsie tot pragtige parmesaan-skaafsels.
13. Kan jy een kookboek uitsonder wat jou tone laat omkrul?
Ek het te veel om een te kies, maar ek lees tans Little Vietnam deur Nhut Huynh. Sy storie hoe hy in 1975 uit Viëtnam ontsnap het en deur Maleisië na Australië gevlug het, sonder dat hy ‘n woord Engels kon praat, is fassinerend.
14. Het jy ‘n gunsteling-kosaanhaling?
“One should not attend even the end of the world without a good breakfast.” – Robert A. Heinlein, van die roman, Friday.
15. Is daar een bestanddeel waarsonder jy nie kan lewe nie?
Ja! Brandrissies!
16. Sondagaand: onverwagte gaste. Wat maak jy vir hulle om te eet?
Spaghetti Vongole met bevrore gapermossels wat in lopende water skoongewas is , knoffel, platblaar-pietersielie en goeie olyfolie.
17. Na watter sjefs kyk jy op?
Bertus Basson is ‘n pakket met kreatiewe energie en sakevernuf en hy is ongelooflik ruimhartig. Hy het my ook die beste kombuisraad gegee: “Wie gebruik duur bestanddele soos vinkel as jy die nederige skorsie kan puree vir ‘n kwart van die prys?”
18. Wat is jou gunstelingkruie?
Gedroogde kruisement. Dis ongelooflik op lamstjops. Die beste gedroogde krui, soos my Siprus-vriende my geleer het.
19. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om te doen waarvoor ek lief is, en geld daaruit te maak.
Neil Roake se resep vir sjokolade-en-koffiebeskuit, uit sy nuutste kookboek, More Life’s a Beach Cottage wat onlangs by Jacana verskyn het:
Bestanddele
125 gram saggemaakte botter
1,5 koppies suiker
1,5 teelepels bakpoeier
Knypie sout
4 eetlepels sterk kitskoffiepoeier wat in 30 ml water opgelos is
2 ekstragroot eiers
3 koppies koekmeel
1 koppie sjokoladestukkies
Metode
Room die botter, suiker, bakpoeier en sout saam. Voeg die koffie by. Klits die eiers en gesifte meel by en voeg laastens die sjokolade by.
Druk die deeg in ‘n diep bakpan sodat dit ongeveer 3 cm dik is en bak vir 50-60 minute teen 180 grade Celsius. Laat afkoel en sny in stukke. Plaas op ‘n bakplaat en sit vir 4-5 ure of oornag teen 70 grade Celsius terug in die oond. As hulle behoorlik afgekoel het, stoor in lugdigte houer.
SOURCES
Jacana