De Hoek Country Hotel is die afgelope 20 jaar een van die Magaliesbergstreek se uithalerhotelle en die meestersjef, Michael Holenstein, tower daar in die pragtige sandsteengeboue een towermaal na die ander op.
Maryke Roberts
Michael se droom is om die Magaliesberg die deurgang na die weste te maak en sê met soveel natuurskoon, rustigheid en wêreldklas hotelle en restaurante, is dit die ideale wegbreek, skaars ’n halfuur se ry uit die stad.
Resep
Klik hier vir Sjef Michael se resep vir Pasta
Carbonara met tuisgemaakte pasta.
Sjef Michael praat saam
Klassiek Europees met ’n internasionale geurtjie. Kos het internasionaal geword. Ons bedien vandag byvoorbeeld ’n Thaise voorgereg, ’n klassieke Franse hoofgereg en Suid-Afrikaanse nagereg met Italiaanse koffie.
Watter een enkele bestanddeel helder vir jou enige dis op?
Vars room
Wat was ’n hoogtepunt in jou loopbaan sover?
Ek het so baie goeie herinneringe oor soveel goeie dinge in my loopbaan, maar ’n hoogtepunt is gewis die titel van SA Junior Chef of the Year in 1989, om die gesogte Chaine des Rotisseurs-ketting te ontvang; om te kon kook vir Khotso Mokoena (Olimpiese silwer medaljewenner in Beijing), Cyril Ramaphosa se verjaardagete hier by die hotel, ook om vir Mbazima Shilowa en ander top Suid-Afrikaanse sakemanne en politici te kook.
Wat is jou gunsteling-kosgesegde?
Virginia Woolf het gesê: “One cannot think well, love well, sleep well, if one has not dined well.”
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae?
Geroosterde varknet, rooikool, Apfelmus en romerige, veerligte kapokaartappels.
Wat is trooskos vir jou?
Ek is mal oor geroosterde hoender. My ma is bekend vir haar geroosterde hoender. Dis ’n dis wat jou dwing om aan tafel te sit en kuier as ’n familie.
Wat is tans jou gunstelingrestaurant?
Ek geniet Mosaic by die Orient. Ek dink Chantel Dartnall is die beste sjef in Suid-Afrika.
Wat is die algemeenste fout wat tuiskokke maak?
Hulle is geneig om dinge te wil afjaag. Wees eerder georganiseerd en geduldig.
Wat is jou gunstelingdrankie?
’n Yskoue gehoute chenin blanc.
Wat is jou sjefsleuse en wat is jou gunstelingkookboek?
Keep it real. Tienuur kom altyd, ongeag hoe gejaagd dit is, tienuur kom altyd. Ek het pas Michael Broughton van Terroir buite Stellenbosch se nuwe kookboek gekoop en ek hou daarvan.
As jy nie ’n sjef geword het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
Dalk iets in argitektuur, dalk konstruksie of toerisme.
Wat is die beste advies wat jy nog ontvang het en elke dag in jou kombuis toepas?
“Wees geduldig, goeie kos neem tyd.” My ma se raad.
As jy vier gaste kan nooi vir aandete, wie sal jy nooi?
Wilhelm Tell (hy het Switserland bevry), Franz Beckenbauer (Duitse Wêreldbekersokkerspeler), Annie Lennox (ek het haar musiek as tiener geniet en sy is baie interessant) en Steve Jobs (ek is mal oor Apple).
Watter bestanddele is altyd in jou koskas?
Pasta, Thomy-mayonnaise, tamatiepasta, olywe, parmesaan, sojasous en Tabasco.
As jy op ’n verlate eiland uitspoel, wat sal jy nodig hê om ’n feesmaal te berei?
Vuurhoutjies, droë hout, vars vis en kokosneute.
Meer inligting
`
SOURCES
Verskaf