Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville is op 20 April vanjaar 10 jaar oud en sjef Jean Louis Geldenhuys is al vir agt jaar by dié gewilde kuierplek en sy BBQ-patathoender is al omtrent legendaries. Vanjaar gaan dié teaterrestaurant ook weer sak en pak KKNK op Oudtshoorn toe en die NG Kerk-Noordse saal in Oudtshoorn word getransformeer tot Die Boer KKNK.
Maryke Roberts
Hy beskryf sy kosstyl as eenvoudig, onopgesmuk en gesond. Hy hou van informele kuiers, waar niemand ongemaklik voel of te bang is om die kos te geniet nie. Met ’n lewensleuse van “meer werk, minder praat en hou dit eenvoudig”, is jy altyd seker waar jy met hom staan.
Resep Kry Jean Louis se resep vir BBQ Patathoender hier
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
’n Sonsopkomsontbyt saam met my vrou, Coretha, in ’n ou VW kewer in Saldanha. Dit was so ongeveer 2001-2002 en dit was toebroodjies en ’n lekker warm fles koffie.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Pasta met olyfolie en slegs so twee of drie vars bestanddele. Een of ander tipe gerookte varkvleis en rissies altyd welkom, plus vars kruie soos basilie.
Wat is die een dis waarvoor jou vriende of familie telkemale vra en jy oor en oor moet maak?
As dit van my vriend Charl afhang, sal dit slakke met spek- en bloukaasroomsous wees, maar as jy my vrou en haar vriende vra, is dit gewis die BBQ-patat-hoender.
Wat is jou trooskos?
? Geroosterde ham-, kaas- en tamatie-broodjie is al van kleintyd af my gunsteling.
Wat was jou slegste maal ooit?
Donderdae was lewerdag op kosskool in Springbok. Sulke bakke vol waarvoor almal te bang was om die deksel op te lig.
Watter kosreuk herinner jou aan jou ouma en oupa – vertel my daarvan?
Ouma: Vir ontbyt: Frisco-koffie en Franse polonie. Aandete: Die onvermydelike koolbredie
Oupa: Piesangs en perskes. Hy het op die mark in Epping gewerk en daar was altyd ’n oormaat van vars vrugte.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete?
John Cusack want hy is my gunstelingakteur, Nelson Demille, my gunstelingskrywer en Lance Armstrong want hy is en bly die beste fietsryer – al sê wie ookal wat.
Wat sal op die spyskaart vir hierdie bekendes wees?
Ontbeende lamsboud op die vuur gebraai en in skywe/repies gesny. Pita’s, salsas, smere, kaas, slaai en pesto. Kuierkos. Almal help hulself en vul hul eie pitas.
Watter krui of spesery gebruik jy die graagste in jou kos en watter krui dink jy kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie?
Ek is baie lief vir die geur en smaak van gerookte paprika. Dragon reken ek word onderbenut.
Is daar een dis wat jou ma, suster, of vrou maak waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie?
My vrou se lasagne.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Tel ’n koppie koffie? Andersins die oordeelmatige gebruik van vars kruie.
Wat is jou gunstelingkookboek?
Concise Larousse Gastronomique: Dalk meer ’n verwysings- as ’n kookboek, maar byna alles wat tot moderne kookkuns gelei het, is daar te vinde.
Wat is jou doodsonde met kos?
Grondboontjiebotter op piesang. En vlakoekies wat my skoonma aanstuur.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai?
Ek verkies om lamsboude, hoenders en beessnitte heel te braai, te laat rus en dan te sny en voor te sit. Of soos die meeste van my vriende weet: Ek laat my vrou die braaiwerk doen, sy is uitstekend daarmee.
Jou grootste kombuisflater?
Ek het twee groot kastrolle beesstert en twee kastrolle kerrie oornag laat suur word. Dit moes die volgende dag vir ’n middagtroue van 250 mense bedien word. Daar is erg rondgeskarrel die volgende oggend.
Wat sal jy in ’n brand red?
Sodra ek weet my gesin is veilig, sal ek definitief teruggaan vir my bergfietse.
• Besoek www.dieboer.com en kliek op “Boer KKNK” vir die Absa KKNK-spyskaart as jy dalk op Oudtshoorn gaan kuier, andersins kan jy in Durbanville gaan kuier.
SOURCES
Verskaf