Weet jy nie wat om vir aandete te maak nie? Hier is ’n resep vir ’n lekker sampioen-en-spek-pastagebak
6 porsies
Bestanddele
500 g (1 pak) pennepasta
bietjie olie
2 uie, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
2 selderystingels, fyngekap
5 ml (1 t) droë gemengde kruie
500 g (2 pakkies) spek, gekap
2 50 g (1 pakkie) sampioene, in skyfies gesny
60 g (1 pakkie) sampioensoppoeier
625 ml (2½ k) volroommelk
250 ml (1 k) room
rooipeper na smaak
250 ml (1 k) cheddarkaas, grofgerasper
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Kook pasta in borrelende soutwater met bietjie olie in tot net sag. Hou eenkant.
- Verhit olie en soteer uie, knoffel, seldery en kruie daarin tot net sag.
- Voeg spek en sampioene by en soteer tot gaar.
- Verhit soppoeier en melk in aparte kastrol en bring tot kookpunt. Laat een minuut prut. Roer room by en verwyder van hitte.
- Roer rooipeper en spekmengsel by sous.
- Giet sous oor pasta en roer deur.
- Skep in gesmeerde oondbak.
- Sprinkel kaas bo-oor en bak vir 20 minute.