Grégoire Berger, sjef by Restaurant Ossiano Fine Dining – Atlantis The Palm het die Afrika/Midde-Ooste uitdunne van die S.Pellegrino Jong Sjef 2016 verlede week in Kaapstad gewen.
Maryke Roberts
Hy was een van 10 finaliste in dié streekuitdunne wat hul slag voor drie beoordelaars moes wys. Die uitdunne is by South African Chef’s Academy in Soutrivier gehou.
Die beoordelaars het elke deelnemer op vyf goue punte beoordeel: bestanddele, vaardighede, skoonheid, boodskap en genialiteit. Een van die beoordelaars, sjef Chantel Dartnall van Restaurant Mosaic by The Orient (aangewys as een van die top 10 restaurante in Suid-Afrika), het na afloop van die beoordeling gesê dit was ‘n moeilike keuse om die wenner aan te wys, want nie alleen was die kos uit die boonste rakke nie, maar die sjefs het ook moeite gedoen met voorkoms.
Die gala-dinee is na afloop van die kompetisie by die One&Only Hotel in die V&A Waterfront gehou. Grégoire het gesê hy is baie trots om Afrika en Midde-Ooste te gaan verteenwoordig én die geleentheid om saam met sjefs van regoor die wêreld te kan kook.
Die finale kompetisie vir die gesogte titel as S.Pellegrino Jong Sjef 2016 word op 13 Oktober in Milaan, Italië beslis. Met die finale mededinging is sewe sjefs, David Higgs, Carlo Cracco, Gaggan Anand, Elena Arzak, Mauro Colagreco, Wylie Dufresne en Roberta Sudbrack, die beoordelaars wat weer volgens die vyf goue reëls sal punte toeken.
Afrika-Midde-Ooste is een van die 20 streke regoor die wêreld wat deelneem. By die finale geleentheid kry elkeen van die 20 finaliste ‘n mentor-sjef of internasionaal erkende kulinêre meester wat hulle sal help voorberei vir die finale rondte. Vir Afrika en die Midde-Ooste is die mentor-sjef Chantel Dartnall.
Die beoordelaars was sjefs Chantel Dartnall van Restaurant Mosaic by The Orient, die Brit Chris Lester van die OIM Restaurant Groep en Meryem Cherkaoui, spysenierskonsultant en eienaar van Mes’lalla Meryem Charkaoui by Mandarin Oriental in Marrakech.
Andrew Ross McKinnon van DW Eleven-13 Restaurant in Johannesburg se inskrywing het sy inspirasie uit die Goudstad geneem.
Sjef Michael O’ Shea van The Ivy Restaurant in Dubai sweet voor die beoordelaars en televisiekameras.
Die Suid-Afrikaanse sjefs wat verlede week meegeding het in die Afrika en Midde-Ooste uitdunne is van links Jean-Claude Wagener van Something Good Roadhouse in Port Elizabeth, Michelle van Sittert African Pride, 15 on Orange Hotel, Dion Vengatass van The Belmond Mount Nelson Hotel en Andrew Ross McKinnon van DW Eleven-13 Restaurant in Johannesburg.
SOURCES
Clifford Roberts