Bedien: 2
Voorbereidingstyd: 5 minute
Gaarmaaktyd: 15-20 minute
Bestanddele
180 g tagliatelle (lintnoedels)
10 ml (2 t) olyfolie
½ klein ui, gekap
100 gr dwergsampioene
200 g plat Portabellasampioene, gesny
½ knoffelhuisie, fyngedruk
1 t fyn paprika
10 ml (2 t) droë sjerrie
10 ml (2 t) tamatiepuree
1 t Dijon-mosterd
’n drukkie suurlemoensap
100 ml crème fraîche
1 e gekapte vars platblaar-pietersielie
Metode
1. Bring ’n groot kastrol water tot kookpunt. Voeg die tagliatelle by en laat kook vir 10 minute of volgens die aanduidings op die pakkie tot net sag.
2. Maak die sous terwyl die pasta kook: Verhit die olie in ’n groot braaipan, voeg die uie en sampioene by sodra dit warm is en soteer vir 5 minute oor hoë hitte tot goudbruin. Voeg die knoffel en paprika by en laat kook vir 30 sekondes, roer deurentyd.
3. Voeg die sjerrie, tamatiepuree, mosterd en suurlemoensap by, roer en laat kook vir sowat 30 sekondes, roer aanhoudend. Roer die crème fraîche by en laat kook oor matige hitte tot sissend warm. Geur na smaak.
4. Dreineer die tagliatelle en verdeel tussen twee bakke. Skep die sampioenmengsel bo-oor en sprinkel die pietersielie oor.