Grace Mnisi, Motswari-wildreservaat se sjef, deel haar resep vir polentakoekies met ons. Dis heerlik saam met braaivleis of kan as vinnige middagete berei word. Dit bedien ses mense.
Bestanddele
polenta
1 koppie polenta
500ml water
500ml melk
2 teelepel botter
80g Parmesaan
2 knoffelhuisies
Gekapte vars roosmaryn
Sout en peper na smaak
Ratatouille
1 groenpeper
1 rooipeper
4 murgpampoentjies
20 babatamaties
1 rooi ui
1 eiervrug
50ml olyfolie
1 blikkie geskilde Italiaanse tamaties, fyn gesny
1 gekneusde knoffelhuisie, fyn gesny
Sout en peper na smaak
Vars tiemie
100g Bokmelkkaas of Deense feta
Metode
- Vir die polenta, verhit die melk en water in ’n groot pot en voeg die knoffel by. Sny die knoffel net middeldeur, omdat dit net die vloeistof gaan geur en verwyder word as die mengsel kook. Roer die mengsel stadig, terwyl die polenta bietjies-bietjies bygevoeg word. Kook vir 15 minute, as dit kitspolenta is, net 5 minute. Hou aan met roer as dit begin verdik, om te verhoed dat dit aanbrand.
- Voeg die botter, parmesaan, sout en peper en roosmaryn by en meng goed deur. Gooi in ’n gesmeerde bak en laat eenkant om af te koel en te stol. Gooi eweredig, dit maak die snyery later makliker.
- Vir die ratatouille moet al die groente in Klein blokkies gesny word. (½ cm X ½ cm) en braai die ui en knoffel in die olyfolie tot deurskynend. Voeg die groente by en kook tot sag, maar nie pap nie. Voeg die tamaties, vars tiemie en sout en peper laaste by en laat dit deurwarm word.
Opdiening:
- Gebruik ’n koekiedrukker en druk 12 sirkels uit die polenta en sit op ’n gesmeerde bakplaat.
- Skep op ses van die sirkels elkeen ’n eetlepel van die ratatouille en krummel die kaas bo-oor.
- Bak in ’n vooraf verhitte oond teen 180 grade vir tien minute tot dit deurwarm is en die kaas bo-op begin smelt.
- Garneer met vars tiemie en bedien warm.