Uit Kokkedoor 2 Versamelresepte kies ons kookwatersjef Errieda Johnny en Elsa se middernagfees-hoenderpastei met eiervrug sambal.
Goudgepofte skilferkorslinte in ’n ruitjiespatroon gepak gee ’n feestelike kinkel aan dié ikoniese hoenderpastei wat deel was van die Kokkedoor-wenners se middernagfees-spyskaart.
Hoenderpastei
1 heel hoender
growwe sout
15 ml gekapte vars tiemie
olyfolie
3 preie, fyngekap
125 ml room
400 g skilferkorsdeeg
Eiervrug sambal
3 eiervrugte
125 ml olyfolie
125 ml balsemiekasyn
125 ml vrugteasyn (verkieslik ’n bessieasyn)
30 ml komynsaad
3 kardemompeule
125 ml suiker
5 ml mosterdsaad
80 ml fyngesnyde soet pikante rissies (peppadews)
± 10 ml sout
Metode
Hoenderpastei
- Voorverhit die oond tot 220 °C.
- Plaas die hoender in ’n oondpan, geur dit mildelik met sout en tiemie, giet olyfolie bo-oor en bak 1–1,5 uur lank tot gaar. Die vel van die hoender moet goudbruin wees.
- Ontbeen die hoender. Sny die vleis en vel in stukkies en hou eenkant. Behou ook die vloeistof wat tydens die gaarmaakproses uitgebraai het.
- Soteer die preie in die pansappe tot sag. Voeg die opgesnyde stukkies vleis en vel asook die room daarby. Proe en voeg nog sout en/of tiemie by indien nodig.
- Skep die mengsel in ’n pasteibak. Verlaag die oondtemperatuur tot 200 °C.
- Rol die deeg dun op ’n meelbestrooide oppervlak uit en sny dit in dun repe. Pak die deegrepe sowat 2 cm uitmekaar kruis en dwars oor die hoendervulsel en laat dit 20 minute in die yskas rus.
- Bak 20–30 minute tot die deeg goudbruin en gaar is.
Eiervrug sambal
- Sny die eiervrugte in skywe en braai dit aan albei kante in die olyfolie bruin.
- Voeg die res van die bestanddele by en kook tot die eiervrug sag en die mengsel dik is – dit moenie vog uitskei nie.
- Skep in ’n houer en sit saam met die hoenderpastei voor.