Al verjaar niemand nie, maar jy soek steeds rede om koek te bak, is die lente die regte tyd vir ’n reënboogkoek
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
Assistent SUZANNE CROZIER
1 groot koek
Bestanddele
4 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
1 ml sout
250 ml (1 k) louwarm melk
60 ml (4 e) olie
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
6 verskillende jelkleursels
Versiersel
3 75 g (¾ blok) wit Wooden Spoonmargarien
by kamertemperatuur
1,5 kg (12 k) versiersuiker, gesif
2 ml bakpoeier
125 ml (½ k) volroommelk
7,5 ml (1½ t) vanieljegeursel
LEES OOK: Ryk sjokoladekoek
Stel oond op 180 °C.
Metode
- Klits eiers en strooisuiker tot liggeel en donserig.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.
- Meng melk, olie en vanieljegeursel.
- Roer meelmengsel en melkmengsel beurtelings by geklitste eiermengsel tot gemeng.
- Verdeel beslag so gelyk moontlik tussen drie mengbakke.
- Kleur elke mengbak met ander jelkleursel. Roer beslag tot net gemeng.
- Voer drie ronde koekpanne met 20 cmdeursnee met bakpapier uit. Spuit met kossproei.
- Giet gekleurde beslag in drie voorbereide koekpanne.
- Bak vir 18 tot 20 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat koeke bietjie in koekpanne afkoel en keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
- Maak nog ’n koekbeslag aan. Verdeel weer tussen drie mengbakke. Kleur met orige drie jelkleursels.
- Versiersel Room margarien, ongeveer vyf minute.
- Meng versiersuiker en bakpoeier. Skep ongeveer 500 ml (2 k) van versiersuiker by margarienmengsel.
- Voeg melk en vanieljegeursel by margarienmengsel. Klits met elektriese klitser tot pofferig, ongeveer vier minute.
- Voeg versiersuikermengsel bietjies op ’n slag by en hou aan klits tot goed gemeng, ongeveer drie minute. Hoe meer jy klits, hoe pofferiger is dit.
- Begin met pers koeklaag en sit dit op geskikte koekbord.
- Gebruik maatkoppie, skep 80 ml (1/3 k) versiersuiker en gebruik dit tussen elke gekleurde koeklaag.
- Gebruik foto vir aanwysings vir verskillende koeklae. Hou so aan tot al die koeklae opgebruik is.
- Gebruik orige versiersuiker om buitekant van koek mee te versier.
- Sny in dun skyfies en sit voor.