Maak ‘n oulike hartjie-quiche vir Valentynsdag!
6 porsies
BROSKORSDEEG
500 ml (2 k) koekmeel
knypie sout
180 g botter
1 eiergeel
90 ml (6 e) yswater
5 ml (1 t) suurlemoensap
VULSEL
klont botter
2 uie, gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
125 ml (½ k) ligte bruinsuiker
15 ml (1 e) wit balsemieke asyn
knypie sout
2 gerookte hoenderborsies, in skyfies gesny
15 ml (1 e) vars pietersielie, gekap
250 ml (1 k) room
125 ml (½ k) volroommelk
4 eiers
sout en peper na smaak
Stel oond op 180 °C.
- Deeg Sif koekmeel en sout saam. Vryf botter in koekmeel met vingerpunte tot mengsel soos broodkrummels lyk.
- Klits eiergeel, water en suurlemoensap saam en voeg by meel-en-botter- mengsel tot deeg vorm.
- Bedek deeg met kleefplastiek en verkoel een uur in yskas.
- Rol deeg op meelbestrooide oppervlak tot ongeveer 4 mm dik uit en voer diep quichepan met 26 cm-deursnee daarmee uit. Prik bodem met vurk.
- Bak tertkors blind vir 15 minute. Verwyder bakpapier en boontjies.
- Plaas weer terug in oond vir vyf minute om heeltemal droog te bak.
- Vulsel Soteer ui en knoffel in botter tot sag en deurskynend.
- Voeg bruinsuiker by en laat karamelliseer oor lae hitte, ongeveer 12 minute. Roer af en toe.
- Voeg balsemieke asyn en sout by. Los nog twee minute op stoofplaat.
- Skep uie op broskorsdeeg. Plaas skyfies gerookte hoender bo-op. Sprinkel vars pietersielie oor.
- Klits room, melk en eiers saam. Geur met sout en peper.
- Giet roommengsel oor vulsel. Bak vir 35 minute of tot gestol in middel.