Valerie Slabbert het hierdie mooi koekies spesiaal vir Moedersdag gebak. Jy kan ook, hier’s die resep, dis makliker as wat jy dink
Deur VALERIE SLABBERT
Foto HEMA PATEL
Hierdie koekies lyk spoggerig en spesiaal en is eintlik verspot maklik om te maak. Die koekies is versier met harde versiersel (Royal icing) en blommotiewe wat met eetbare ink op versiervelle gedruk en met ‘n papierpons uitgesny is. Die randjies is met medium vloeibare harde versiersel opgespuit en geverf met eetbare goue poeier wat met ‘n paar druppels vodka gemeng is.
Daar is oneindig baie moontlikhede vir die versiering van hierdie koekies. Jy kan met voedselkleursel daarop verf sodra die harde versiersel goed droog is, of jy kan die versiersel kleur en fondantblommetjies opplak wat jy by jou plaaslike bakwinkel koop. Jy kan selfs die harde versiersel gebruik om blommetjies en patroontjies direk op die koekies te spuit.
Botterkoekies
200 g botter (kamertemperatuur – gesout of ongesout)
200 g strooisuiker
1 eier
400 g koekmeelblom
5 ml vanieljegeursel
Voorverhit oond tot 180 °C.
1. Room botter en strooisuiker tot net gemeng.
2. Voeg eier by en skraap kante van mengbak.
3. Voeg koekmeelblom en vanieljegeursel by en meng totdat dit ‘n deeg vorm (dis ‘n stewige deeg).
4. Verkoel deeg vir minstens 30 minute in yskas voordat jy dit uitrol en koekievorms uitsny.
5. Bak vir sowat 10 tot 15 minute (afhangende van die grootte van koekies) totdat dit net-net om die kante begin ligbruin word.
Harde versiersel
15 g eierwitpoeier (“Actiwhite” of “meringue powder” – verkrygbaar by bakwinkels)
75 ml afgekoelde kookwater
500 g gesifte versiersuiker
1. Meng eierwitpoeier en water en druk dit deur sif.
2. Voeg versiersuiker by en klits vir vyf minute met elektriese menger se mengspaan (“K-beater”) tot wit, wolkerig en glad.
3. Voeg spaarsamig water by terwyl jy versiersel bly klits om verskillende stadiums van harde versiersel te bereik:
– Medium vloeibaar – om randjies en patrone mee te spuit: Voeg water by totdat versiersel sagte punte vorm wat ombuig wanneer mengspaan opgelig word.
– Vloeibaar – om hele koekie mee te bedek: Voeg water by totdat versiersel binne tien sekondes weer terugloop tot glad wanneer mengspaan opgelig word.
Voltooi die koekies
1. Versier koekies met vloeibare harde versiersel. Party mense spuit eers ‘n randjie met stewiger versiersel rondom – ek spuit vloeibare versiersel sommer direk sonder ‘n randjie op en gebruik dan ‘n sosasiestokkie om kante netjies te maak.
2. Laat koekies behoorlik droog word – laat staan vir ‘n paar uur tot hard of laat koekies vir ‘n uur teen 50 °C in oond uitdroog.
3. Druk vorms met papierpons uit bedrukte eetbare versiervelle en plak met ‘n bietjie suikergom of harde versiersel op koekies vas. Jy kan jou eie eetbare gom maak deur ‘n bietjie CMC-poeier met afgekoelde kookwater te meng.
4. Spuit randjies met medium vloeibare versiersel en nommer 1-spuitpunt.
5. Meng ‘n bietjie eetbare goue poeier met vodka of ‘n bietjie water en verf randjies sodra dit droog is. Die vodka werk goed omdat alkohol vinnig verdamp en droog word.