Zonnebloem se 2011 Shiraz is fluweelsag en sappig genoeg om jou mond te laat water, en met net genoeg pepergeure om die perfekte maat te wees vir Andy Fenner, Kaapstadse vleisghoeroe, se speseryagtige lamsgereg, chermoula-gesmeerde, gerolde lamsbors.
Die druiwe vir die wyn kom van die beste wingerde in die Stellenbosch- en Helderberg-omgewing en die wyn is in klein nuwe en tweedevulvate verouder om ligte, gebalanseerde houtgeure te bekom. Die gevolg is ’n smaaklike en verfrissende kombinasie van ryp pruim- en rooibessie-aromas en -smake wat gelig word deur ’n titsel peper.
Fenner sê na ? mens die geurige chermoula-smeer berei het – en dis glad nie moeilik nie – is die werk in die kombuis ook omtrent klaar. Dan kan jy al jou aandag wy aan die sappige Shiraz wat sowat R60 per bottel kos en landwyd verkrygbaar is.
Bestanddele
Lam
1,5 kg gerolde lamsbors, deur die slagter gerol en vasgebind
Chermoula
1 groot bossie koljander, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyn gekap
2 eetlepels paprika
1 eetlepel komyn
1 teelepel sout
1 teelepel gemmer, gerasper of baie fyn gekap
½ teelepel cayenne-peper (of meer as jy dit sterker wil hê)
3 tot 4 saffraandraadjies
3 eetlepels kookolie
Sap van 1 klein suurlemoen
Metode
Voorverhit die oond tot 170°C. Kombineer die chermoula-bestanddele in ’n bak (jy kan dit vooraf doen as jy so verkies). As die sous te dik is, voeg ’n bietjie olie by om dit te verdun. Smeer dit dan oor die lamsbors en plaas laasgenoemde op ’n braaipan wat liggies met olie besmeer is. Kook in die oond vir ’n uur. Verwyder, laat toe om effe af te koel en sny dan in skywe. Bedien met vars roketslaai, seisoensgroente en 2011 Zonnebloem Shiraz.