Dié piesangkarameltertjiestertjies gaan vinnig van die tafel af verdwyn
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS Foto ANDREA CALDWELL
6 middelslag-tertjies
Bestanddele
400 g (1 rol) gekoopte skilferkorsdeeg
3 piesangs, in skywe gesny
45 ml (3 e) suurlemoensap
360 g (1 blik) karamelkondensmelk
Bolaag (opsioneel)
250 ml (1 k) room
10 ml (2 t) versiersuiker
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
handvol gekapte pistasieneute of neuter van jou keuse
Metode
Stel oond op 200 °C.
- Rol skilferkorsdeeg oop en sny ses sirkels uit.
- Smeer ses losboomquichepannetjies met 8 cm deursnee met botter of spuit met kossproei.
- Voer pannetjies met skilferkorsdeeg. Sny bokant gelyk.
- Steek bodem van tertjies met vurk. Bak blind vir 12 minute.
- Haal bakpapier en boontjies uit en bak tertjies weer vir vier tot vyf minute sodat bodem mooi droog bak.
- Laat gebakte tertjies eenkant afkoel.
- Sny piesangs in skyfies en sprinkel suurlemoensap bo-oor. Vul bodem van tertjies met piesangskyfies.
- Roer karamelkondensmelk tot glad en verdeel tussen ses tertjies. Plaas weer in yskas vir twee uur.
- Bolaag (Opsioneel) Doen dit net voor opdiening. Klits room saam met versiersuiker en vanieljegeursel tot styf. Skep bo-op tertjies en rond met piesangskyfies en gekapte neute af.