Hierdie heerlike resep kom uit die Clover Mama Afrika-projek se kookboek Beste gebak. Dit lewer 2 klein broodjies
Vir elke kopie van Best Bakes/Beste Gebak wat verkoop word, word ‘n persentasie van die opbrengste aan die Clover Mama Afrika-projek geskenk. Dié nasionale projek ondersteun gemeenskappe deur moeders te bemagtig en te help om na hulself en die mense om hulle te kyk.
Best Bakes/Beste Gebak is by toonaangewende handelaars of Lapa-uitgewers beskikbaar teen R194,95
Bestanddele
1k (140 g) koekmeel
½ k (70 g) bruismeel
1 t (5 ml) fyn kaneel
½ t (2,5 ml) koeksoda
1 k (230 g) sagte muscovado-suiker
¾ k (60 g) klapper
1 k (2 klein) fyngedrukte piesang
1 x 432 g-blik fyn pynappel (crushed pineapple), gedreineer (behou 60 ml vloeistof)
1 t (5 ml) vars gerasperde gemmer
2 eiers
½ k (125 ml) sonneblomolie
¼ k (60 g) gesmelte Clover Springbok-botter
Versiersel (opsioneel)
2 e (30 ml) Clover Springbok-botter
¼ k (65 g) gladde roomkaas
½ vanieljepeul, sade uitgeskraap
1½ k (190 g) versiersuiker, gesif
1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer twee klein broodpannetjies en voer dit met bakpapier uit.
2 Sif die koekmeel, bruismeel, kaneel en koeksoda in ’n groot mengbak. Roer die suiker, klapper, piesang, pynappel en gemmer by.
3 Klits die pynappelstroop, eiers, olie en botter liggies saam. Giet die mengsel oor die ander bestanddele en meng dit versigtig.
4 Verdeel die mengsel tussen die broodpanne en bak dit 35 tot 45 minute, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat 5 minute staan voor dit op ’n afkoelrakkie uitgekeer word.
5 Sit dit voor met of sonder die versiersel.
Versiersel
Klits die botter, roomkaas en vanieljesade saam tot lig en romerig. Klits die gesifte versiersuiker bietjie vir bietjie by.