Wanneer laas het jy ystervarkies geëet?! Gebruik hierdie resep en maak jou eie pienk ystervarkies!
Maak ongeveer 36 blokkies
Koek
250 g (½ blok) botter
500 ml (2 k) strooisuiker
4 eiers
125 ml (½ k) volroommelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
750 ml (3 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
knypie sout
Pienk stroop
80 g (1 pakkie) framboosjellie
500 ml (2 k) kookwater
Afronding
500 ml (2 k) fyn, droë klapper
LEES OOK: Bak ‘n toring oliebolle
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Koek Room botter en strooisuiker saam tot liggeel en donserig.
- Voeg eiers by en klits tot goed gemeng.
- Roer melk en vanielje by.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer meelmengsel by bottermengsel.
- Skep deeg in oondpan van ongeveer 22 cm x 34 cm wat met bakpapier uitgevoer en met kossproei gespuit is. Bak vir 27 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat koek effens afkoel en keer op afkoelrakkie uit tot heeltemal afgekoel.
- Sny kante van koek af en sny koek in blokkies van 3,5 cm x 3,5 cm. Sny bokant gelyk sodat dit vierkantig is.
- Pienk stroop Maak jelliepoeier met kookwater aan tot opgelos.
- Laat jellie vir 40 minute in yskas afkoel. Jellie moet goed afgekoel wees, maar nie gestol nie – dit moet soos dun vla wees.
- Afronding Gooi klapper in bakkie of bord.
- Doop koekblokkies in jelliemengsel en rol dan in klapper tot goed bedek.
- Hou in lugdigte houer in yskas en haal een uur voor opdiening uit om kamertemperatuur te bereik.