Vonkelwyn is nie net lekker om te drink nie, maar ook om mee te bak. Bak hierdie pienk vonkelwynkoek en nooi jou vriendinne oor!
Deur MARELI VISSER
1 koek
Bestanddele
650 ml (345 g) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) sout
6 (195 g) groot eierwitte
250 ml (1 k) pienk vonkelwyn
10 ml (2 t) vanieljegeursel
30 ml (2 e) olie
475 ml (400 g) suiker
235 ml (225 g) botter
pienk koekkleursel
VERSIERSEL
315 ml (300 g) botter, kamertemperatuur
1 895 ml (1 kg) versiersuiker
10 ml (2 t) vanieljegeursel
125 ml (½ k) pienk vonkelwyn
Metode
Voorverhit oond tot 180 °C en voer 2 x 22 cm-koekpanne met waspapier uit en spuit dit met kleefwerende sproei.
- Sif meel, bakpoeier en sout.
- Klits eierwitte, vonkelwyn en vanieljegeursel tot goed gemeng.
- Room olie, suiker en botter tot lig en donsig.
- Gooi eierwitmengsel by bottermengsel en meng goed. Vou meelmengsel in en meng totdat beslag goed deurgemeng is. Kleur beslag ligpienk met koekkleursel.
- Skep beslag in koekpanne en bak vir 28 tot 30 minute tot gaar.
- Verwyder koeke uit oond en laat afkoel.
- Versiersel Klop botter tot liggeel en donsig.
- Gooi versiersuiker, vanieljegeursel en vonkelwyn by en klop vir verdere 10 minute. Kleur versiersel ligpienk met koekkleursel. Skep versiersel in spuitsak.
- Stapel koeklae op mekaar met versiersel tussen lae, en versier hele buitekant van koek. Versier met vars rose en bessies.