Petri van Eat Restaurant deel goedgunstelik sy resep vir mieliekoekies met Vrouekeurlesers. Hulle bedien dit saam met soetrissiesous as deel van ‘n vegetariese mandjie – beslis die moeite werd om te probeer.
Bestanddele
250g mielies, gekook en van die stronk afgehaal
VIR DIE DEEG
250 ml (1 k) meel
125 ml (½ k) water
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) strooisuiker
geur met sout en peper
Metode
1 Meng al die droë bestanddele en voeg die water by. Die deeg moet vir 1 uur staan voordat jy dit gebruik.
2 Verhit olie tot 180 °C.
3 Voeg die mielies by die deeg en skep een eetlepelvol van die mengsel in die braaier op ‘n slag.
4 Braai tot goudbruin en verwyder. Plaas op handdoekpapier om van die oortollige olie ontslae te raak en geur met growwe sout.
5 Die mieliekoekies is heerlik saam met soetrissiesous.
Eet by Eat
As jy in die Hermanus-omgewing is gaan maak ‘n draai by Eat by die Hemel & Aarde Village in Sandbaai, Hermanus.
Besoek hul facebook-bladsy, stuur ‘n e-pos aan [email protected] of bel 028 316 2348 om met Eat Restaurant in verbinding te tree.
Lees meer oor Eat Restaurant en loer deur die spyskaart.