Yutamé Venter hou van kosmaak, maar sy hou van maklike en min-moeite-disse wat smaaklik is en wat sy uit haar kop kan maak. Sy deel haar resep vir ’n patatrol met Vrouekeur
Bestanddele
6 tot 8 porsies
Patats
750 ml (3 k) water
2,5 ml (½ t) sout
2 groot patats, geskil en in klein blokke gesny
60 ml (4 e) suiker
ekstra botter
150 ml (½ k + 5 t) geelsuiker
LEES OOK: Glutenvrye koek
250 ml (1 k) room
Deeg
750 ml (3 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
250 g (½ blok) botter
2 ekstragroot eiers
125 ml (½ k) volroommelk
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Patats Verhit water en sout in kastrol tot kookpunt. Kook patats in water tot sag. Dreineer.
- Druk patats fyn met aartappeldrukker. Laat afkoel.
- Jy benodig 500 ml (2 k) fyn afgekoelde patats.
- Deeg Sif koekmeel en bakpoeier saam. Vryf botter by meelmengsel in totdat dit soos broodkrummels lyk.
- Klits eiers en melk saam. Roer by gesifte meelmengsel tot deeg vorm.
- Sit deeg in plastieksakkie en dan in yskas vir 30 minute.
- Rol deeg 4 mm dik op meelbestrooide oppervlak in reghoek van ongeveer 30 cm x 40 cm uit.
- LEES OOK: Patat- en-roket-slaai
- Smeer patats oor uitgerolde deeg. Moenie tot heeltemal op kante van uitgerolde deeg smeer nie.
- Rol deeg op soos rolkoek en sny in 2,5 cm-skywe.
- Spuit oondbak van 22 cm x 32 cm met kossproei en sprinkel 60 ml (4 e) suiker op bodem van oondbak.
- Stip oondbak ook met klontjies botter.
- Pak gesnyde skywe in oondbak.
- Verhit geelsuiker en room saam in kastrol en bring tot kookpunt. Roer van tyd tot tyd en pasop vir aanbrand.
- Giet sous oor patatskywe en bak vir 40 minute tot ligbruin bo-op.