Gerookte varkskenkel-en-bosbessie-risotto met Zonnebloem Pinotage.
Bestanddele
1 heel, gerookte varkskenkel, met been
1 groot wortel, in helfte gesny
1 wit ui
Hand vol swart peperkorrels (vir die aftreksel)
1 pak arborio-rys van topgehalte
1 wit ui, geskil en fyngekap
1 k (250 ml) gedroogde bosbessies
1 k (250 ml) gerasperde parmesaankaas
paar klonte botter
grasuie of pietersielie, fyngekap (vir garnering)
Metode
1 Week varkskenkel vir een uur in koue water om van oortollige sout ontslae te raak. Verwyder, droog af en plaas in diep pot. Bedek varkskenkel met koue water en voe
g groot wortel, in helfte gesny, gekapte ui en ’n paar swart peperkorrels by. Bring die water stadig tot kookpunt, verminder dan die hitte en laat prut vir twee en ’n half uur of totdat die vleis maklik van die been loskom. Voeg warm water tydens die kookproses by indien nodig.
2 Wanneer vleis heeltemal gaar is, haal dit uit en sit dit eenkant neer om af te koel. Verwyder vel versigtig met tang. Versnipper vleis. Filtreer aftreksel versigtig en gooi groente weg.
3 Maak nou risotto soos gewoonlik: Braai ui in botter en olie voor rys bygevoeg en daarmee gemeng word. Voeg aftreksel stadig by rys en roer aanhoudend tot jy tevrede is dat rys egalig gekook is en voeg dan versnipperde vleis by. Net voordat jy opskep, voeg gerasperde parmesaankaas en klont botter by, asook gedroogde bosbessies. Bedien in diep borde en garneer met gekapte grasuie of pietersielie.