Prikkel die smaakkliere met ’n papawer-en-suurlemoen-smaak
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
Foto ELMARIE Knapton
12 porsies
KOEK
250 g (½ blok) sagte botter
312 ml (1¼ k) strooisuiker
6 ekstragroot eiers, geskei
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) suurroom
75 ml (5 e) papawersaad
560 ml (2¼ k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2 ml sout
10 ml (2 t) vars suurlemoenskil, fyngerasper
10 ml (2 t) suurlemoensap
SUURLEMOEN-ROOMKAASVERSIERSEL
100 g sagte botter
750 ml (3 k) versiersuiker, gesif
15 ml (1 e) suurlemoensap
60 ml (4 e) roomkaas teen kamertemperatuur
Stel oond op 180 °C.
- Room botter en strooisuiker ongeveer vyf minute met elektriese klitser tot liggeel en romerig.
- Skei eiers en klits eiergele by bottermengsel.
- Roer vanielje, suurroom en papawersaad tot goed gemeng by bottermengsel.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer suurlemoenskil by.
- Roer gesifte meelmengsel by bottermengsel tot deeg vorm. Roer suurlemoensap by.
- Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou by beslag in.
- Verdeel beslag tussen drie gesmeerde ronde koekpanne met 20 cm-deursnee. Voer koekpanne met bakpapier uit en spuit met kossproei.
- Bak vir 25 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat koeke bietjie in koekpanne afkoel en keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
- Suurlemoen-roomkaasversiersel Room botter met elektriese klitser vir ongeveer vier minute tot liggeel. Voeg gesifte versiersuiker bietjies-bietjies by en hou aan klits tot versiersuiker romerig word.
- Voeg suurlemoensap by wanneer versiersuiker te styf word om te klits.
- Roer roomkaas tot sag en roer by romerige versiersuiker tot gemeng.
- Verdeel versiersel tussen al die koeklae en plaas bo-op mekaar op koekstaander.
- Rond af soos verkies.