Sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit hou baie van braai en lekker eet.
Kreef aan die Weskus laat sy hart sing. Hy besit Die Agterplaas, ’n gastehuis in Melville, en vertel een van sy gunstelingrestaurante in dié omgewing, is Picobella. Hy beskou Vlaandere as ’n kosmekka wat hy keer op keer wil besoek. Gee vir dié musiekman blikkies oesters of mossels op soutbeskuitjies en hy’s baie gelukkig. Hy vermy egter kos wat te erg brand en goeie kos wat knoffel kort. Jannie sê dis vir hom ’n voorreg om saam met sy vriend Lochner de Kock ’n kookvertoning aan te bied. “Hy gesels oor kos, gee wenke en maak twee heerlike disse op die verhoog.
Ons sing en ek speel kitaar. Loch speel die rol van Kook en my verhoognaam is Geniet!” Sy idee van ’n lekker onthaal, is kortliks: Ek moet iemand kry om te help en ek moenie dit self probeer nie. As hy saam met enigeen om ’n tafel kon kuier, sal dit sy pa en ma wees. “My liewe pa en ma (albei al jare gelede oorlede) met ’n bord van my ma se Sondagmiddagete sou beslis die grootste en lekkerste bederf wees …”
12 porsies
12 groot swart sampioene
340 g (2 x 170 g-blikkies) fyn tuna,
gedreineer
2 uie, fyngekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 tamaties, ontpit en in klein blokkies
gesny
2,5 ml (½ t) suurlemoensap
sout en peper na smaak
500 ml (2 k) goudakaas, gerasper
genoeg olyfolie
15 ml (1 e) vars pietersielie, gekap
- Sny sampioene se steeltjies af en kap fyn.
- Meng fyngekapte steeltjies met tuna, uie, knoffel, tamaties en suurlemoensap. Voeg sout en peper na smaak by.
- Skep mengsel in sampioene.
- Verdeel gerasperde kaas tussen sampioene.
- Braai sampioene oor matige warm kole, ongeveer 15 minute of totdat kaas gesmelt is.
- Verf van tyd tot tyd ’n bietjie olyfolie met ’n laventelbesempie oor sampioene.
- Sprinkel fyngekapte pietersielie oor sampioene en bedien op roosterbrood indien verkies.