Hierdie resep vir ‘Osso bucco’ met pasta is heerlik én maklik!
4 tot 6 porsies
Bestanddele
bietjie olie
600 g beesvleis (shin)
1 ui, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
2,5 ml (½ t) droë gemengde kruie
1 wortel, geskil en in blokkies gesny
2 lourierblare
1 ml sout
knypie swartpeper
250 ml (1 k) beesvleisaftreksel
250 ml (1 k) water
410 g (1 blik) gekapte tamaties
125 ml (½ k) witwyn
500 g (1 pak) pennepasta
5 ml (1 t) sout
10 ml (2 t) olie
LEES OOK: Tuna-en-olyf-pasta
Metode
- Verhit olie en braai beesvleis tot begin verbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Soteer ui, knoffel en kruie in olie/vet wat reeds in kastrol is. Voeg wortel, lourierblare, sout en peper by. Soteer bietjie.
- Skep gebraaide vleis terug in kastrol. Voeg aftreksel, water, tamaties en witwyn by. Plaas kastrol se deksel bo-op en prut oor lae hitte vir een uur.
- Roer deur en prut vir nog 30 minute. Verwyder lourierblare, bene en enige senings.
- Pluis vleis met twee vurke. Prut nog bietjie as sous baie loperig is.
- Kook pasta tot al dente in borrelende water waarby sout en olie gevoeg is.
- Dreineer pasta en roer by beesvleis.
- Sit warm saam met gerasperde parmesaankaas voor.