Hierdie olyfbrood is heerlik saam met braaivleis
Maak 1 groot Olyfbrood.
BESTANDDELE:
500 g Koekmeel (4 x 250 ml) (4 Koppies)
15 ml Suiker (1 Eetlepel)
7 ml Sout (1½ Teelepels)
10 g Anchor Kitsgis (1 Pakkie)
30 ml Olyf of Sonneblom olie (2 Eetlepels)
300 ml Louwarm water (±1¼ Koppies)
100 g Olywe, ontpit en gekap (1 Pakkie)
Meel om op die oppervlakte te strooi
METODE:
1. Meng al die droë bestanddele, asook die Anchor Kitsgis bymekaar.
2. Meng die olie en die louwarm water saam met die droë bestandele om ‘n sagte deeg te vorm, knie die deeg vir 5 minute tot elasties en glad.
3. Plaas die deeg in ‘n bak, bedek met plastiek en laat die deeg om 10 minute te rus.
4. Nadat die deeg afgeknie is, kan die olywe bygevoeg word. Knie die deeg tot die olywe eweredig versprei is. Bedek en plaas die deeg op ‘n warm plek vir 15 minute om te rys tot die deeg ‘n sponsagtige voorkoms het.
5. Knie die deeg af en keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en vorm die deeg in ‘n groot, ronde bal.
6. Plaas die vorm op ‘n gesmeerde bakplaat en maak snymerke oor die bokant van die deeg met ‘n skerp mes en besprinkle die bokant met meel.
7. Bedek dan met plastiek sodat die deeg kan rys vir 20-25 minute op ‘n warm plek tot dubbel die volume. Bak dan in ‘n voorverhitte oond by 200°C/400°F vir 20-25 minute tot bros en bruin.
VARIASIES:
SON GEDROOGDE TAMATIE SPIRAAL:
Laat 100 g (1 pakkie) son gedroogde tamaties in warm water week tot uitgepof. Hou ‘n paar tamaties uit vir garnering, kap die oorblywende tamaties. Volg stap 1 tot 4 van die bogenoemde resep, vervang net die olywe met tamaties. Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak, rol die deeg in ‘n lang string. Rol die string op om ‘n spiraal te vorm. Sprinkel gerasperde kaas oor die deeg en garneer met die oorblywende tamaties. Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide bakplaat, bedek met plastiek en laat op ‘n warm plek vir 20-25 minute om te rys tot dubbel die volume. Bak in ‘n voorverhitte oond by 200°C/400°F vir 20-25 minute tot goud bruin.