Catharina’s Restaurant by Steenberg Vineyards in Constantia het ‘n nuwe uitvoerende sjef en hy is nie bang vir interessante spyskaarte en disse nie.
Maryke Roberts
Archie Maclean se disse is anders, opwindend en bring die erfenis terug na die landgoed. Sy disse bring hulde aan die plaas se 17de eeuse stigter, Catharina Ras.
Hy het vir ‘n groep wynkenners, kosliefhebbers, sjefs en die media by ‘n spesiale middagete vertel dat hy respek het vir dié eerste vrou wat eiendom en ‘n plaas besit het, nadat Jan van Riebeeck etlike jare tevore voet aan wal in Tafelbaai gesit het.
Sy spyskaart is verweef met erfenis, die vars groente, vrugte en kruie wat Catharina self 300 jaar gelede in haar tuin kon pluk, en die vleis wat sy self kon jag.
Tussen elke gang wat onder meer krokodilstert en sebralende ingesluit het, het hy staaltjies van Catharina vertel en gesê sy was avontuurlustig en daarom is hy avontuurlustig in sy benadering tot die disse op die spyskaart.
“Sy het seekoeie, leeus, vlakvarke, volstruise, krokodille en sebras gejag en baie van die inheemse veldkosse daarmee saam bedien,” het hy gesê. Ek bring van daardie geure na die tafel.”
Archie het bygevoeg dat hy gaste uit hul gemaksone op ‘n avontuurlike reis na kulinêre ontdekking wil lei. Al die disse word met die plaas en omliggende plase se bekroonde wyne gepasmaat. Steenberg Vineyards is die oudste geregistreerde plaas in die Kaap.
Catharina’s Restaurant is sewe dae per week oop vir ontbyt, middag- en aandete. Bespreek by 021 713 7178 of besoek www.steenbergfarm.com
Die geroosterde krokodilstert word met geroomde preie en knoffel, swartgeskroeide mieliesalsa en diepgebraaide preie bedien.
Die geroosterde sebralende word met gerookte eiervrug mieliemeel, chakalaka, murgpampoentjie, kekerertjies en fyn boontjies bedien.
John Chishimba, sommelier by Catharina’s, John Loubser, algemene bestuurder van Steenberg Vineyards en JD Pretorius, keldermeester.
Die nuwe uitvoerende sjef, Archie Maclean.
Gaste is verwelkom met yskoue Lady R 2011 MCC.
SOURCES
Clifford Roberts