Ons het hierdie tradisionele Franse gebak, mille feuille, met ’n Suid-Afrikaanse gunsteling, die suurlemoentert, gekombineer
Maak 2
Bestanddele
2 pakke skilferkorsdeeg
45 ml (3 e) melk
45 ml (3 e) suiker
60 ml (¼ k) mielieblom
125 ml (½ k) water
3 eiergele
2 eiers
1 blik kondensmelk
125 ml (½ k) suiker
125 ml (½ k) suurlemoensap
5 ml (1 t) suurlemoenskil
geel koekkleursel
3 eierwitte
160 ml (2/3 k) suiker
Metode
Verhit oond tot 200 °C en voer bakplate met waspapier uit.
- Sny rol skilferdeeg in drie gelyke dele en plaas op bakplaat.
- Prik deeg met vurk en verf liggies met melk.
- Sprinkel met suiker en bak vir 15 minute tot goudbruin. Draai lae om en bak vir verdere 15 minute tot deurgaar. Verwyder uit oond en laat afkoel.
- Meng mielieblom en water tot opgelos en klits eiergele en eiers by.
- Gooi mielieblommengsel, kondensmelk, suiker, suurlemoensap en suurlemoenskil in glasbak en kook vir 10 minute in mikrogolf terwyl jy aanhoudend roer. Wanneer dit dik en gaar is, voeg paar druppels geel kleursel by en meng goed. Laat tot kamertemperatuur afkoel en skep in spuitsak.
- Meng eierwitte en suiker, plaas in dubbelkoker en roer aanhoudend totdat al die suiker opgelos is.
- Klits eierwitmengsel styf en skep in ander spuitsak.
- Plaas een laag skilferkors op koekstaander en spuit bolletjies met suurlemoenvulsel, herhaal vir tweede laag. Plaas derde laag bo-op en spuit met eierwitmengsel en brand dan liggies met gasvlam.
- Bedien vir teetyd of as poeding.