Die fliek Tortilla Soup het my benadering tot tamatiesop heeltemal verander. Waar ek eens gedink dat tamatiesop vreeslik vervelig is, weet ek nou dat mens wonderlike geur daaruit kan tap.
Dis ook vinnig en maklik om te maak, maar die ekstra bestanddele wat mens by dit sit om gewone geurige tamatiesop in Tortillasop te verander – dit is wat hierdie sop in ‘n meesterstuk verander.
Vir die geurigste tamatiesop moet jy die rooiste, mooiste tamaties gebruik wat jy in die hande kan kry. Romatamaties is die beste hiervoor, hoewel jy kersietamaties ook kan gebruik.
Bestanddele
VIR DIE BASIESE TAMATIESOP
1 kg (8) tamaties
1 ui, fyngekap
30 ml (2 e) olie
500 ml (2 k) water
5 ml (1 t) suiker
sout en varsgemaalde swartpeper
Metode
Stel oond op 220 °C.
1 As jy kersietamaties gebruik, halveer dit, of as jy gewone tamaties gebruik sny in 8 stukke. Gooi in ‘n oondpan met 15 ml olie. Geur met sout en peper en rooster vir 15 minute.
2 Verhit die res van die olie in ‘n groot kastrol en soteerdie ui vir ongeveer 10 minute tot sag en deurskynend.
3 Voeg die tamaties, water en suiker by en bring tot kookpunt. Kook vir 15 minute en maak dan fyn in ‘n voedselverwerker.
4 Geur met nog sout en varsgemaalde swartpeper.
VIR DIE MEXIKAANSE GEUR
As jy van kos hou wat branderig is, kan jy twee gedroogde rissies in jou sop sit terwyl dit kook. Verwyder dit nét voor jy die sop verwerk.
Skep dan die volgende bestanddele in bakkies uit en bedien saam met die sop.
1 Sny ‘n avokado in klein blokkies. Sprinkel dadelik met vars suurlemoensap en sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
2 Gerasperde cheddarkaas, ongeveer 100 g (250 ml)
3 Suurroom
4 Gekoopte mielieskyfies of gebraaide tortillaskyfies. Vir die gebraaide tortillaskyfies kan jy twee tortillas oprol en in dun skyfies sny. Braai dan in ‘n pan met 15 ml (1 e) olie tot goudbruin. Skep op ‘n handdoekpapier uit. Jy kan ook die tortillas in pizzaskywe sny en dit braai tot goudbruin.