Daars min mense wat nie van melktert hou nie. Probeer hierdie een met kondensmelk
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
Bestanddele
KORS
8 00 g (2 x 400 g-rolle) gekoopte skilferkorsdeeg
bietjie melk
MELKTERTVULSEL
1 ℓ (4 k) volroommelk
397 g (1 blik) kondensmelk
2 stukke pypkaneel
8 ekstragroot eiers, geskei
125 ml (½ k) water
187 ml (¾ k) bruismeel
60 ml (4 e) mielieblom
125 ml (½ k) suiker
2,5 ml (½ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
BOLAAG
15 ml (1 e) fyn kaneel
Metode
Stel oond op 250 °C.
- Kors Smeer twee groot blikborde met botter en voer dit met skilferkorsdeeg uit. Prik bodem van deeg met vurk.
- Gebruik orige skilferkorsdeeg om rand (ongeveer 2 cm breed) op rand van blikbord te vorm. Verf rand van blikbord met water en plaas strook skilferkorsdeeg op rand. Verf net randgedeelte met bietjie melk.
- Plaas voorbereide blikborde in yskas terwyl vulsel voorberei word.
- Melktertvulsel Verhit melk, kondensmelk en pypkaneel saam in kastrol tot warm.
- Klits eiergele en water met vurk.
- Meng bruismeel, mielieblom, suiker en sout in mengbak.
- Voeg eier-en-water-mengsel by meelmengsel en roer totdat slap deeg vorm.
- Wanneer melkmengsel kookpunt bereik, roer meelmengsel by en roer aanhoudend totdat melktertpap begin verdik.
- Verwyder van hitte en roer vanieljegeursel by. Haal kaneelstokkies uit.
- Klits eierwitte met elektriese klitser tot stywepuntstadium. Vou eierwitte by melktertpap in en meng goed.
- Skep melktertpap in koue korse en bak vir 12 minute by 250 °C.
- Draai stoof se hitte laer na 170 °C en bak vir nog 20 minute of tot goudbruin bo-op.
- Bolaag Laat melkterte afkoel en sprinkel kaneel bo-oor. Sit in skywe voor.