Ons vier nasionale melktertdag! Bak hierdie heerlike (en maklike) melktert
Onthou julle nog vir Mareli Visser van Koekedoor? Sy was die eerste wenner van die Koekedoor-reeks en bly op Douglas in die Noord-Kaap.
Ons het spesiaal vir Melktertdag op 27 Februarie vir melktertwenke by haar aangeklop:
“Melktert is ons erfenis en die hele land is op hol oor ons tradisionele melktert met veerligte lagies skilferkors. Maar kom ons wees eerlik, nie een van ons sien kans vir die lot werk om skilferkors te maak nie en in elke geval is dit nou hopeloos te warm hier by ons om suksesvol te wees.
“Ek is lief vir bak en wil graag in die melktertopwinding deel, so Saterdag sal ek sommer ‘n vinnige korslose melktert aanmekaarslaan. Ek dink julle sal die maklike resep kan baasraak en dit neem nie ure om voor te berei nie. Vir dié wat te laat wakker skrik, is daar altyd plan B.”
1 groot melktert
1 liter melk
1 kaneelstokkie
3 eiers
3 eiergele
30 ml (2 e) botter
250 ml (1 k) suiker
5 ml (1 t) bakpoeier
250 ml (1 k) koekmeel
1 ml sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
kaneelsuiker
Klik hier vir ‘n melktertsopie-resep
Metode
Voorverhit die oond tot 180°C
- Kook die melk en een kaneelstokkie vir 3 minute in die mikrogolf en laat tot kamertemperatuur afkoel.
- Berei ‘n oondvaste tertbak van 27 cm voor deur dit liggies met botter te smeer.
- Skei die eiers en klits die eierwitte tot sagtepuntstadium.
- Smelt die botter en meng dit met die suiker en ses eiergele.
- Voeg die bakpoeier, meel, sout, melk en vanieljegeursel by en meng goed.
- Vou die eierwitte by die mengsel in en gooi die mengsel in die tertbak.
- Bak vir 60 minute of tot gestol.
- Verwyder uit die oond en laat afkoel.
- Sprinkel met kaneelsuiker en bedien.