Maak sommer self hierdie heerlike geskenk en laat almal spesiaal voel
• hierdie malvalekker-resep maak ongeveer 42 blokkies
MALVALEKKERS
60 ml (¼ k) water
30 ml (2 e) gelatien
250 ml (1 k) water
30 ml (2 e) gouestroop
500 ml (2 k) suiker
3 ekstragroot eierwitte
30 ml (2 e) rooswater
1 ml rooi voedselkleursel
OM IN TE ROL
187 ml (¾ k) versiersuiker
187 ml (¾ k) mielieblom
1 Malvalekkers Spons gelatien bo-oor 60 ml (¼ k) water.
2 Verhit water (250 ml), gouestroop en suiker in kastrol oor medium hitte tot suiker opgelos is. Roer gereeld.
3 Wanneer borrelstadium bereik word, moet suiker nie meer geroer word nie. Laat kook mengsel tot sagte bal, ongeveer 8 minute. Om te toets of dit reg is, kan ‘n druppel van gekookte suikermengsel op ‘n koue piering gedrup word om sagte bal te vorm. As dit nog nie sagtebalvorm is nie, moet dit nog bietjie gekook word.
4 Haal kastrol van stoofplaat af. Roer gesponste gelatien by warm suikermengsel en roer tot opgelos.
5 Klits eierwitte met elektriese klitser styf en laat warm suikerstroop by eierwitte inloop terwyl jy dit aanhoudend klits.
6 Klits eierwit-en-suiker-mengsel tot draderig en dik, ongeveer 10 minute.
7 Roer rooswater en voedselkleursel by.
8 Voer bak van 22 cm x 32 cm met bakpapier uit wat met kossproei gespuit is.
9 Om in te rol Sif versiersuiker en mielieblom saam en skep in vlak bakkies.
10 Sprinkel bietjie van mielieblom-en-versiersuiker-mengsel op bodem van gevoerde bak.
11 Skep malvalekkermengsel in bak. Maak gelyk bo-op en sprinkel weer mielieblom-en-versiersuiker-mengsel bo-op.
12 Laat oornag stol.
13 Sny in blokkies en rol in oorblywende mielieblom-en-versiersuiker-mengsel sodat dit goed bedek is.
WENKE Sny malvalekkers met mes wat in kookwater gedompel is en afgedroog is of met bietjie botter gesmeer is.
Rooswater kan ook met vanieljegeursel vervang word.