Aktrise en TV-aanbieder Therese Benade deel haar resep vir ’n maklike crème brûlée met ons.
Therese se talente is nie net tot voor die kameras beperk nie. Sy’s baie kreatief, speel klavier en is mal oor pottebakkery. Sy hou baie van kosmaak, maar veral van bak. Dié resep is heerlik, maklik en laat jou soos ’n fantastiese kok lyk!
6 porsies
Bestanddele
6 groot eiergele
125 ml (½ k) strooisuiker
500 ml (2 k) room
5 ml (1 t) vanieljegeursel of 1 g droë laventelblomme of 4 steranys
ekstra strooisuiker
Metode
Stel oond op 160 °C.
- Meng eiergele en strooisuiker saam in mengbak.
- Verhit room tot kookpunt. Dit moenie kook nie. Voeg vanieljegeursel by. As laventelblomme of steranys gebruik word, moet dit saam met room verhit word. Skep dit uit wanneer room deur sif gegiet word.
- Gooi room deur sif en klits by eiergeelmengsel. Roer goed terwyl jy dit byvoeg.
- Verdeel roommengsel tussen klein ramekinbakkies.
- Sit ramekinbakkies in oondpan en vul oondpan met water tot ramekins halflyf in water staan. Die waterbad help dat dit nie droogbak nie.
- Bak vir 40 minute en moenie dat dit kook nie, anders gaan jy roereiers kry. Dit moenie styf in middel wees nie.
- Haal uit waterbad. Laat afkoel en bêre in yskas tot opdiening.
- Sprinkel egalige laag strooisuiker oor en karameliseer met gasvlam of sit vir paar minute onder oondelement tot suiker begin borrel.
- Versier soos verkies en sit voor.