Met ’n pakkie maalvleis in die yskas kan jy ver kom!
4 porsies
Bestanddele
MAALVLEIS
bietjie olie
1 ui, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
2,5 ml (½ t) droë pietersielie
2 selderystingels, fyngekap
700 g beesmaalvleis
2 ml sout
swartpeper na smaak
45 ml (3 e) bruinuiesoppoeier
375 ml (1½ k) kookwater
45 ml (3 e) tamatiepasta
5 ml (1 t) bruinsuiker
MIELIEKORS
500 ml (2 k) bruismeel
1 ml sout
60 ml (4 e) botter
410 g (1 blik) geroomde suikermielies
30 ml (2 e) volroommelk
MAAK OOK: Maalvleis-en-eier-pastei
Metode
Stel oond op 200 °C.
- Maalvleis Verhit bietjie olie en soteer ui, knoffel en pietersielie vir drie minute.
- Voeg seldery by en soteer nog drie minute.
- Voeg maalvleis by en soteer tot verkleur. Geur met sout en peper.
- Maak bruinuiesoppoeier met kookwater aan.
- Voeg dit by maalvleismengsel. Roer tamatiepasta en bruinsuiker by en laat vir nog vyf minute sonder deksel oor matige hitte prut.
- Skep maalvleis in gesmeerde oondbak van ongeveer 24 cm x 18 cm.
- Mieliekors Sif bruismeel en sout saam. Vryf botter by meel in tot dit soos broodkrummels lyk.
- Meng roommielies en volroommelk. Voeg mieliemengsel by meelmengsel en roer tot sagte deeg.
- Skep deeg bo-op maalvleis en maak gelyk bo-op.
- Bak vir 35 minute of tot goudbruin bo-op en gaar.
- Sit warm saam met slaai voor.