Het jy al ooit probeer om ’n maalvleis-en-eier-pastei te maak? Maak dit sommer vandag nog!
6 porsies
Bestanddele
800 g (2 rolle) skilferkorsdeeg
VULSEL
bietjie olie
1 ui, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
2,5 ml (½ t) droë pietersielie
600 g beesmaalvleis
410 g (1 blik) gekapte tamaties
2,5 ml (½ t) sout
knypie swartpeper
60 ml (3 e) pikantrissieblatjang
10 ml (2 t) koekmeel
6 hardgekookte eiers, afgedop
AFRONDING
1 eier, geklits
45 ml (3 e) sesamsaad
MAAK OOK: Maalvleisbrood
Metode
Stel oond op 200 °C.
- Vulsel Verhit bietjie olie en soteer ui, knoffel en pietersielie tot ui deurskynend is. Voeg maalvleis by en soteer tot gaar.
- Voeg tamaties, sout, peper en blatjang by. Prut vir 10 minute tot meeste van vloeistof verdamp het. Roer koekmeel by en prut nog vyf minute tot dik.
- Rol deeg op gesmeerde bakplaat oop. Skep maalvleis bo-op, maar nie tot teen kante nie.
- Plaas eiers in middel. Plaas oorblywende deeg op en druk kante toe.
- Afronding Verf met geklitste eier oor en sprinkel sesamsaad oor.
- Bak vir 30 minute of tot goudbruin bo-op.
- Sit warm saam met slaai vir middagof aandete voor.