Lize Beekman deel ’n resep vir kapokaartappels met salm
Lize glo kos moet met liefde gemaak word. “Al maak jy ‘n stukkie roosterbrood met kaas, is liefde die belangrikste bestanddeel. Dis juis die tyd om die tafel met jou geliefde en die mense wat vir jou kosbaar is, wat tel. As jy kos maak met dié gedagte in jou hart, kan jy nie verkeerd gaan nie.”
2 porsies
Bestanddele
Kapokaartappels
500 ml (2 k) water
2,5 ml (½ t) sout
2 groot aartappels
10 ml (2 t) botter
15-30 ml (1 tot 2 e) warm volroommelk
knypie sout en peper na smaak
vars basilieblare, fyngekap
Salm
bietjie olyfolie
125 ml (½ k) vars broodkrummels
½ fetakaasskyf, gekrummel
2 porsies vars salm
Aspersies
klont botter
klompie vars aspersies
• Stel oond op 180 °C.
Metode
- Kapokaartappels Plaas water en sout saam in kastrol en verhit tot kookpunt.
- Plaas skoon gewaste aartappels met skil in borrelende water. Laat kook tot aartappels sag is.
- Giet kokende water af. Vul kastrol met koue water. Laat staan tot aartappels bietjie afgekoel het. Die koue water help om aartappels se skille maklik af te trek.
- Sny geskilde aartappels in kleiner stukke. Voeg botter, melk, sout en peper by. Druk aartappels fyn.
- Roer vars basiliekruid by. Hou eenkant warm.
- Salm Smeer geskikte oondpan of gooi olyfolie in.
- Meng broodkrummels en fetakaas saam. Plaas krummelmengsel op salm.
- Bak salm vir 15 minute tot gaar.
- Aspersies Verhit botter tot gesmelt en voeg aspersies by. Maak vinnig botter gaar vir 1 tot 2 minute.
- Sit kapokaartappels, salm en aspersies voor in borde.