Wanneer laas het jy ’n ringkoek gebak? Maak hierdie lekker lemoenringkoek
1 ringkoek
Bestanddele
3 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
45 ml (3 e) olie
375 ml (1½ k) koekmeel
7,5 ml (1½ t) bakpoeier
1 ml sout
187 ml (¾ k) volroommelk
LEMOENSTROOP
75 ml (5 e) water
20 ml (4 t) botter
375 ml (1½ k) suiker
30 ml (2 e) lemoenskil, fyngerasper
250 ml (1 k) lemoensap
LEES OOK: Nartjiekoek
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Klits eiers en strooisuiker tot liggeel vir ongeveer vier minute. Roer olie by.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.
- Voeg gesifte meelmengsel by eiermengsel en roer melk bietjies-bietjies by tot sagte, mengbare deeg vorm.
- Spuit of smeer ringkoekpan van 24 cm in deursnee.
- Skep deeg in en bak vir 30 tot 35 minute of tot toetspen skoon uitkom.
- Laat koek bietjie in ringkoekpan afkoel en keer dan op afkoelrakkie uit.
- Lemoenstroop Plaas water, botter, suiker en lemoenskil saam in kastrol en kook oor matige hitte tot suiker oplos. Roer af en toe. Draai stoofplaat se hitte laer en kook vir nog vyf minute. Voeg lemoensap by en verwyder van hitte.
- Giet warm lemoenstroop stadig oor warm gebakte lemoenkoek. Stroop wat van koek afdrup, kan weer oor koek gegiet word.
- Sit in skywe voor.