Hierdie koek is ekstra spesiaal, met die aromatiese geur van laventel wat in elke mondvol lekkerte deurskemer
Laventelkoek met laventelroomkaasversiersel
Beslag genoeg vir 1 x 20 cm-koekpan
Bestanddele
700 ml (300 g) koekmeel
350 ml (330 g) strooisuiker
15 ml (1 e) bakpoeier
2,5 ml (½ t) sout
165 ml (160 g) sagte botter
4 (120 g) eierwitte
1 groot eier
250 ml (1 k) melk
10 ml (2 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) laventelblomme
LAVENTELROOMKAASVERSIERSEL
4 eierwitte (120 g)
240 ml (200 g) suiker
15 ml (1 e) laventelblomme
300 ml (160 g) versiersuiker
125 ml (120 g) botter, kamertemperatuur
1 houer (230 g) roomkaas, kamertemperatuur
Metode
Voorverhit oond tot 180 °C. Voer 20 cm-koekpan met waspapier uit en spuit met kleefwerende sproei.
1 Gooi meel, strooisuiker, bakpoeier en sout in voedselverwerker en verwerk vir twee minute.
2 Voeg botter lepel vir lepel by en verwerk tot dit soos seesand lyk.
3 Voeg eierwitte op medium-spoed een vir een by en dan die eier. Skakel voedselverwerker af.
4 Klits melk, vanieljegeursel en die laventelblomme saam tot goed gemeng. Gooi meelmengsel by melkmengsel.
5 Skep deeg in pan en bak vir 35–40 minute tot goudbruin en gaar. Laat koek afkoel.
6 Laventelroomkaasversiersel Klits eierwitte, suiker en laventelblomme in dubbelkoker tot suiker opgelos het.
7 Gooi mengsel deur sif en klits met menger tot stywepuntstadium.
8 Gooi versiersuiker by en klits tot styf.
9 Voeg botter lepelgewys by en klits tot mengsel dik word, sowat vyf minute.
10 Roer roomkaas tot dit sag is en skep lepelgewys by mengsel. Moenie oorwerk nie, anders word mengsel loperig.
11 Skep versiersel in spuitsak.
12 Konstruksie Sny koek gelyk en dan middeldeur en smeer roomkaasversiersel op onderste helfte.
13 Plaas boonste helfte bo-op en spuit koek toe met versiersel. Maak netjies met paletmes.
14 Verkil koek in yskas om te stol.
15 Versier met versuikerde laventelblomme.
WENK Vir ’n vierlaagkoek soos op die foto, maak die beslag twee maal aan en bak in twee 20 cm-panne
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.