GENOEG VIR 8 | BEREIDINGSTYD: 15 MINUTE | GAARMAAKTYD: 35 MINUTE
BESTANDDELE
Vir die filet:
50 ml olyfolie
5 g seesoutvlokkies
3 g varsgemaalde swartpeper
800 g beesfilet, skoongemaak en
senings verwyder
20 g botter
3 takkies roosmaryn
Vir die rooiwynsous:
30 ml olyfolie
10 g botter
2 salotte, fyngekap
2 takkies roosmaryn
2 selderystele, grofweg gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
500 ml rooiwyn
500 ml goeie bees- of
lamsvleisaftreksel
60 g botter
Vir die geroosterde tamaties:
4 ryp beesharttamaties
30 ml olyfolie
10 g seesoutvlokkies
3 g varsgemaalde swartpeper
6 takkies vars tiemie
METODE
- Meng die olyfolie, sout en peper in ’n klein bakkie en smeer die hele filet daarmee.
- Verhit die botter in ’n Le Creuset Signature Square Skillet Grill oor hoë hitte. Draai en kantel die pan terwyl die botter smelt om die bodem te bedek. Voeg die roosmaryntakkies by. Skroei die filet vir 5-8 minute tot dit oraloor mooi bruin is. Lig dit uit die pan, bedek dit met foelie en laat dit vir 15 minute eenkant staan.
- Maak die sous deur die olyfolie en botter oor matige hitte te smelt in ’n klein Le Creuset Saucepan. Voeg die salotte by en soteer dit vir 5 minute of tot dit gaar is maar nog nie begin verbruin nie. Voeg die knoffel en roosmaryntakkies by en soteer dit vir nog 2 minute.
- Voeg dan die seldery by en soteer dit vir omtrent 8 minute tot die seldery sag is. Voeg die rooiwyn by en laat dit afkook tot die vloeistof die helfte minder is. Gooi alles deur ’n sif (gooi die groente en kruie weg), roer die aftreksel by die vloeistof en kook dit weer tot dit die helfte minder is (die sous is reg wanneer dit die agterkant van ’n lepel bedek). Klits laastens die botter by om ’n blink, stroperige sous te vorm.
- Maak die tamaties deur die oond tot 220ºC te verhit. Pak die tamaties op ’n Le Creuset Rectangular Oven Tray en meng die olyfolie, geurmiddels en tiemietakkies deur. Rooster dit vir 20 minute in die verhitte oond, of tot dit gaar en effens geskroei is. Sit die tamaties heel voor, of sny dit middeldeur.
- Sny die vleis in dik skywe nadat dit gerus het en rangskik dit op ’n stuk swart leiklip. Sit die tamaties voor in ’n Le Creuset Heritage Dish en die sous in ’n Le Creuset Ramekin.