Kry die kinders om te help, bak koekies en maak ’n unieke versiering vir die Kerstafel
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
3 klein Kersbome
Bestanddele
250 g (½ blok) botter
187 ml (¾ k) strooisuiker
385 g (1 blik) kondensmelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
1 eier
500 g (4 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
knypie sout
VERSIERSEL
500 ml (2 k) versiersuiker, gesif
1 eierwit
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Room botter en strooisuiker met elektriese klitser tot liggeel en donserig. Ongeveer 3 minute.
- Giet kondensmelk, vanieljegeursel en eier by. Klits weer.
- Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Voeg by kondensmelkmengsel en roer tot stywe deeg vorm.
- Knie deeg vir een minuut op meelbestrooide oppervlak.
- Plaas in plastieksakkie en los vir een uur in yskas.
- Rol deeg op meelbestrooide oppervlak uit, ongeveer 4 tot 5 mm dik.
- Gebruik sterkoekiedrukkers en druk verskillende groottes sterre uit.
- Plaas koekies op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is.
- Bak vir 8 tot 10 minute tot goudbruin. Van die groter koekies kan dalk bietjie langer gebak word om dieselfde kleur as kleiner koekies te kry. Laat op bakplaat afkoel en plaas dan op afkoelrak om heeltemal af te koel.
- Versiersel Klits eierwit en helfte van versiersuiker saam tot redelik dik. Voeg versiersuiker by soos benodig om dik, maar drupbare versiersel te kry.
- Smeer versiersel op elke koekielaag en stapel koekies van groot na klein bo-op mekaar op koekstander om boom te maak. Draai koekies sodat sterpunte van mekaar verskil en “takke” vorm.
- Verdun oorblywende versiersuiker met bietjie water om drupbare versiersel te kry en laat drup soos sneeu van boom af.
- Rond af met suiker of silwer eetbare balletjies sodat dit soos sneeuboom lyk.
Wenke
- Druk 9 koekies van 10 cm, 9 koekies van 8 cm, 9 koekies van 6 cm, 6 koekies van 4 cm, 6 koekies van 2 cm in deursnee uit deeg. Soveel koekies behoort 3 bome te kan maak.
- Om ’n groter koekieboom te maak, trek een koekiedrukker af en vergroot op fotostaatmasjien om verskillende groottes te kry en sny die koekies daarvolgens uit.