Deur: Marlo Kitshoff-Carstens Assistent: Suzanne Crozier Foto’s: Elmarie Knapton
Bestanddele
1 groot chouxdeegring
Chouxdeeg
500 ml (2 k) water
200 g botter
500 ml (2 k) koekmeel
2 ml sout
6 tot 7 ekstragroot eiers, liggies geklits
handvol amandelvlokkies
Sjokolademousse
150 g (1 pakkie) sjokolademousse (Moirs)
250 ml (1 k) volroommelk
Afronding
vars vrugte bv frambose
mintblaartjies
Stel oond op 200 °C.
1 Poffertjies Plaas water en botter saam in kastrol en verhit tot kookpunt.
2 Sif koekmeel en sout saam en voeg by in kastrol. Haal van plaat af en roer vinnig met houtlepel tot dit ‘n bol vorm.
3 Plaas kastrol terug op stoofplaat en roer vir nog een minuut. Verwyder van hitte en laat 10 minute afkoel.
4 Klits eiers goed en voeg net bietjie geklitste eier op ‘n slag by.
5 Dit mag dalk nie nodig wees om al die eier by te voeg nie. As jy te veel eiers byvoeg, mag dit dalk nie met ‘n spuitbuis gespuit kan word nie of nie genoeg rys nie.
6 Deeg moet blink en sag genoeg wees om van lepel af te val, maar nog steeds vorm behou.
7 Skep deeg in versiersak met groterige opening.
8 Voer bakplaat met bakpapier uit. Gebruik koekpan se bodem en trek sirkel met potlood op bakpapier met 22 cm-deursnee. Spuit bakpapier met kossproei.
9 Spuit groot bolletjies redelik naby mekaar op getekende sirkel. Dit hoef nie aanmekaar te raak nie omdat chouxdeeg nog gaan rys gedurende bakproses.
10 Sprinkel amandelvlokkies bo-op.
11 Bak vir 12 minute by 200 °C en dan nog 30 minute by 180 °C of tot goudbruin bo-op.
12 Haal uit oond en druk gaatjies aan onderkant van chouxdeegring sodat stoom kan ontsnap.
13 Plaas weer terug in afgeskakelde oond vir nog 15 minute sodat dit goed kan uitdroog. Maak oonddeur dan heeltemal oop en laat tot afgekoel in oond.
14 Sjokolademousse Maak sjokolademousse soos op verpakking aangedui met 250 ml melk.
15 Sny ring versigtig met getande mes oop en vul basis met sjokolademousse. Plaas op opdienbord. Sit boonste gedeelte terug.
16 Afronding Sprinkel versiersuiker bo-oor en rond af met frambose en mentblaartjies.
Wenk As daar chouxdeeg oorbly, kan jy individuele poffertjies maak.