‘Wit beskuit’, soos ons dit noem, is nie altyd die gesondste nie, maar definitief die lekkerste. Dis sommer ook ‘n vinnige beskuit om te maak
• ongeveer 90 stukke beskuit
BESTANDDELE
500 g (1 blok) botter
2 ekstragroot eiers
750 ml (3 k) suiker
1 l (4 k) karringmelk
2 kg bruismeel
20 ml (4 t) bakpoeier
7,5 ml (1½ t) sout
• Stel oond op 160 °C.
METODE
1 Smelt botter in kastrol oor lae hitte. Roer af en toe. Verwyder van hitte wanneer gesmelt is en laat effens afkoel.
2 Klits eiers in mengbak. Roer suiker en karringmelk daarby.
3 Roer afgekoelde botter by eiermengsel en roer deur tot gemeng.
4 Sif bruismeel, bakpoeier en sout saam in mengbak.
5 Roer eier-botter-mengsel by meelmengsel tot deeg vorm. Dit mag dalk nodig wees om bietjie bruismeel (ongeveer 45 ml/3 e) tussen jou hande te vryf sodat deeg nie te veel aan hande klou nie.
6 Knie deeg vir ongeveer 4 minute en verdeel dan in klein bolletjies.
7 Smeer 3 broodpanne van 10 cm x 27 cm goed met botter en sit bolletjies daarin.
8 Die broodpanne moet nooit meer as 3/4 vol met deeg gevul word nie.
9 Bak vir 60 minute tot liggoudbruin bo-op of tot toetspen skoon uitkom.
10 Laat beskuit effens in broodpanne afkoel en keer dan op afkoelrakkies uit om heeltemal af te koel.
11 Breek beskuit in stukke en plaas op bakplate.
12 Stel oond op 50°C en droog beskuit vir ongeveer 5 uur uit tot heeltemal droog. Laat oonddeur op klein skrefie oop terwyl beskuit uitdroog.