Jan Braai deel ’n resep vir ’n Griekse braaibroodjieresep
Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – is ’n Suid-Afrikaanse instelling so eie aan ons land as sy groot passie, vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse kuier- en kosfees gemaak deur Erfenisdag nie-amptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners saambind is immers om kos oor oop vure te kook.
LEES OOK: Braaivleismielietert
Twee van die gewildste bykosse by ’n Suid-Afrikaanse braai, is die tradisionele braaibroodjie en ’n Griekse slaai. Hulle loop mekaar gewoonlik eers op die bord raak, maar toe besluit ek hulle kan netsowel effens vroeër blad skud. Dit was ’n baie suksesvolle ontmoeting.
Hiermee my resep vir ’n Griekse braaibroodjie
Om sake glad te laat verloop, soteer jy die ui en soetrissie vooraf in ’n bietjie olyfolie. Dit maak hulle soeter en wanneer jy alles in die braaibroodjies moet inpas, is dit ook makliker. Olywe, feta, tamaties en cheddarkaas kleur die prentjie in. Hierdie braaibroodjies is nogal volgestop en jy moet hulle versigtig braai. Dis die beste om ’n verstelbare toeklaprooster te gebruik.
Bestanddele
(vir 4 mense)
1 sopie olyfolie (plus ekstra om die brood mee te bedruip)
1 groen soetrissie (gesny)
1 rooi-ui (gesny)
8 snye witbrood
½ koppie olywe (ontpit en gehalveer)
2 skywe fetakaas (omtrent 150 g, gekrummel)
1 koppie beleë cheddarkaas (gerasper)
2 groot tamaties (gesny)
varsgemaalde sout en swartpeper
1 sopie vars origanum
LEES OOK: 8 vrae aan Jan Braai
Metode
- Verhit die olie in ’n pan en soteer die soetrissie en ui totdat hulle sag en gekaramelliseer is. Dit sal omtrent 15 minute neem, so wees rustig. Bedruip al die snye brood aan die een kant met olyfolie (die geoliede kante sal die buitekante wees).
- Sit die helfte van die snye brood, geoliede kant onder, op ’n bord en pak die olywe, gebraaide uie en soetrissie, fetakaas, cheddarkaas en tamatieskywe in lae daarop. Geur met sout en peper en origanum.
- Bedek met die ander snye brood, dié keer met die geoliede kant na bo, en braai in ’n toeklaprooster oor medium hitte tot die brood gerooster en die kaas gesmelt is.
- Al is komkommer deel van ’n Griekse slaai, is hy nie welkom in die braaibroodjies nie. Bedien dit eerder as garnering langs die broodjies. ’n Regte Griekse slaai het ook nooit slaaiblare in nie, so jy hoef nie daarvan in die braaibroodjies of langsaan te sit nie.
- Behalwe vir die komkommer bevat die braaibroodjies al die bestanddele van ’n braaibroodjie én ’n Griekse slaai. Daarom kan jy dit sommer as die enigste en eksklusiewe bykos by ’n braai bedien. Dit smaak baie lekker, is veeldoelig en steek ’n selderystokkie voor daardie onaangeraakte slaaibakke by die braai.