Maak maklike hoenderpasteitjies!
Deur: Mareli Visser
18 pasteie van 8 cm
Bestanddele
PASTEI
500 g koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
250 g botter, gevries
1 eiergeel
30 ml (2 e) brandewyn
250 ml (1 k) koue sodawater
VULSEL
500 g hoender
500 ml (2 k) water
1 ui, fyngekap
2 repe spek, gesnipper
15 ml (1 e) botter
30 ml (2 e) koekmeel
½ blokkie hoenderaftreksel, gekrummel
2,5 ml (½ t) mosterd
30 ml (2 e) mayonnaise
15 ml (1 e) gekapte pietersielie
1 eier, geklits
Metode
- Pastei Sif meel en bakpoeier. Gooi dun lagie meel in groot mengbak.
- Verdeel botter in vier stukke. Rasper eerste deel botter op laag meel. Gooi weer lagie meel en rasper volgende stuk botter. Hou aan tot al die meel en botter gebruik is. Botter moet goed tussen meel versprei wees.
- Klits eiergeel met brandewyn en roer sodawater by.
- Gooi vloeistof by meelmengsel en sny in.
- Bring deeg bymekaar en bedek met kleefplastiek. Laat rus in yskas tot benodig.
- Vulsel Kook hoender in water tot sag, verwyder uit pot. Behou 250 ml (1 k) aftreksel. Ontbeen hoender en sny in stukke.
- Braai ui en spek in botter tot gaar, strooi meel oor en meng deur.
- Roer aftreksel (250 ml), hoenderaftreksel, mosterd en mayonnaise by en laat vir een minuut prut.
- Roer pietersielie en hoender by en laat afkoel.
- Rol deeg uit en druk 8 cm-sirkels uit.
- Skep eetlepels vulsel op helfte van deegsirkels. Verf rand met eier en sit nog ’n sirkel bo-op. Druk rand met vurk en pak op bakplaat. Verkil in vrieskas vir 30 minute.
- Verhit oond tot 180 °C.
- Haal pasteie uit vrieskas en verf met eierwas. Steek gaatjie aan bo-kant vir stoom om te ontsnap.
- Bak vir 30 minute tot goudbruin en gaar.