Die pragtige Rozanne McKenzie het ’n bedrywige lewe as TV-aanbieder. Gelukkig het sy ‘n man, Chris, wat heerlik kan kook en hy maak ook meestal die kos in hul huis. Sy deel haar resep vir hoender-en-sampioen-pasta met spinasie
Rozanne is gek na Oosterse kos soos soesji en dim sum, maar sy is nie so mal oor tamaties nie. Sy hou van soet en sout en geniet graag ietsie soets nadat sy iets souterigs geëet het. As jy haar wil omkoop, is Milkybar-sjokolade en Pringles-aartappelskyfies net die ding.
2 porsies
Bestanddele
250 g (½ pak) volgraanfusillipasta
2 groot hoenderborsies
sout en peper na smaak
hoenderspeserye
droë gemengde kruie na smaak
bietjie olyfolie
1 ui, gekap
2,5 ml (½ t) knoffel, gekap
250 g (1 pakkie) sampioene, in skyfies gesny
166 ml (2/3 k) laevetroom
2 handevol babaspinasie
45 ml (3 e) parmesaankaas, gerasper
LEES OOK: Spek-sampioen-en-blomkool-pasta
Metode
- Kook pasta tot al dente in borrelende water waarby bietjie sout en olie gevoeg is. Dreineer en roer bietjie ekstra olie deur sodat pasta nie aan mekaar klou nie. Hou eenkant.
- Sny hoenderborsies in blokkies en geur met sout, peper, hoenderspeserye en kruie.
- Verhit bietjie olie en soteer ui en knoffel tot sag. Voeg hoenderblokkies by en soteer tot gaar. Voeg sampioene by en soteer vir nog vyf minute.
- Voeg room by en laat prut tot sous verdik. Roer gaar pasta by hoenderroommengsel.
- Stoom spinasie tot gaar en voeg by hoenderpasta. Sprinkel parmesaankaas oor.
- Sit dadelik voor.