Sanger Heinz Winckler sê hy is mal oor goeie kos en om kos te maak. “Ek weet eintlik min, maar ek geniet dit om te eksperimenteer en nuwe dinge in die kombuis te probeer,” sê hy.
Heinz se gunstelingbestanddele is rooivleis, avokadopere, tamaties, gouda-, feta- en parmesaankaas. Hy hou daarvan om pizza, filet en pasta te eet en ’n lekker toebroodjie vir middagete laat hom aan sy skooldae dink. “My ma se melkkos bly my gunstelingtrooskos.”
4 porsies
PASTA
500 g (1 pak) pasta van jou keuse
15 ml (1 e) oyfolie
5 ml (1 t) sout
BOLOGNESESOUS
bietjie olyfolie
1 ui, gekap
250 g (1 pakkie) sampioene, gekerf
1 wortel, geskil en in repies gesny
2 tamaties, gekap en in blokkies gesny
400 g beesmaalvleis
5 ml (1 t) worcestersous
gedroogde Italiaanse kruie na smaak
sout en peper na smaak
410 g (1 blik) tamatie-en-uie-mengsel
125 ml (½ k) goeie rooiwyn
50 g (1 blikkie) tamatiepasta
15 ml (1 e) blatjang
Italiaanse harde kaas soos parmesaan of pecorino, gerasper (opsioneel)
- Pasta Kook pasta in borrelende kookwater waarby olyfolie en sout gevoeg is tot al dente, ongeveer 10 tot 12 minute.
- Haal pasta net voor tyd verstreke is uit. Moenie pasta te pap kook nie. Dreineer.
- Roer ekstra olyfolie deur pasta en hou warm.
- Bolognesesous Verhit bietjie olyfolie tot goed warm. Voeg ui by en braai tot gekaramelliseer.
- Voeg sampioene by en braai. Voeg nog olyfolie by indien nodig.
- Sit braaipan se deksel op en laat braai vir 3 minute tot sampioene verbruin.
- Voeg wortel en tamaties by. Braai nog so 3 minute.
- Skuif groenteporsie opsy in braaipan. Braai maalvleis op oop helfte van braaipan. Sprei vleis uit en braai tot gaar.
- Voeg nog bietjie olyfolie, worcestersous, Italiaanse kruie, sout en peper by.
- Roer tot vleis goed gemeng is. Roer groentemengsel stelselmatig by maalvleis tot gemeng.
- Voeg tamatie-en-uie-mengsel, rooiwyn, tamatiepasta en blatjang by.
- Laat vir 15 minute oor matige hitte prut sodat van die vloeistof kan verdamp, maar bolognese steeds souserig is.
- Skep bolognese op pasta en sit warm saam met parmesaankaas voor indien verkies.