Verras almal met sulke spesiale hasiebroodjies vir Paasfees
6–8 porsies
Bestanddele
500 g (4 k) broodmeel
7,5 ml (1½ t) sout
5 ml (1 t) suiker
10 g (1 pakkie) kitsgis
30 ml (2 e) botter
ongeveer 350 ml louwarm water
1 eier, geklits
Metode
Stel oond op 190 °C.
- Meng broodmeel, sout, suiker en kitsgis saam in mengbak.
- Vryf botter in broodmeel totdat dit soos broodkrummels lyk.
- Giet water by meelmengsel en bewerk totdat deeg vorm en van bak se kante loskom. Al die water is nie nodig nie.
- Plaas op werksoppervlakte en knie tot glad en elasties, ongeveer 15 minute.
- Plaas deeg terug in mengbak wat liggies gesmeer is en maak met kleefplastiek toe. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume.
- Knie af en vorm bolletjies van ongeveer 60 g elk deur dit tussen jou hand en werksoppervlakte te rol.
- Plaas entjies van mekaar op gesmeerde bakplaat.
- Sny twee “ore” met kombuisskêr teen 45 ° in deeg en vorm dit netjies met jou hand.
- Druk twee ogies met agterkant van sosatiestokkie. Bedek met kleefplastiek of klam doek.
- Laat rys op warm plek vir ongeveer 15 minute. Haal kleefplastiek en klam doek af en verf met geklitste eier.
- Bak vir ongeveer 20 minute of tot goudbruin. Dit moet hol klink as daarop geklop word.
- Sit saam met botter voor.