Hierdie is ’n lekker plaasvervanger vir braaibroodjies. Dis baie maklik om te maak en gaste is altyd baie beïndruk! Zetske van Pletzen deel haar resep met ons
6 tot 8 mense
Bestanddele
800 g (1 sakkie) gekoopte brooddeeg
6 snye ham, fyn gekap
500 ml (2 k) cheddarkaas, gerasper
1 ui, fyngekap
1 eier
bietjie growwe seesout
LEES OOK: Biltongbrood
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Knie deeg en verdeel in 3 gelyke dele. (Smeer deeg met bietjie water sodat dit makliker hanteerbaar is).
- Werk deeg sodat dit in 3 plat, langwerpige stukke is (ongeveer 8 cm breed).
- Lê lang stukke deeg plat op werksoppervlak.
- Sit stukkies ham, ui en helfte van kaas in middel van elke strook deeg. Vou deeg toe. Dit moet lyk soos 3 stukke gevulde “worsies”.
- Lê 3 stukke teenaan mekaar en knyp bokant vas.
- Vleg stukke tot onder en knyp onderkant ook vas.
- Klits eier en verf oor brood.
- Maal growwe sout oor brood en sit deeg in gesmeerde broodpan van 12 cm x 26 cm.
- Strooi oorblywende kaas oor brood en bak vir 50 tot 60 minute tot gaar.
Wenke
- As broodjie te donker bak, kan jy ’n stuk foelie so 20 minute voor baktyd verstreke is, bo-oor plaas.
- Jy kan bestanddele bysit of vervang. Jy kan ook natuurlik die deeg self maak, dit is maar net vinniger en makliker om ’n pakkie deeg te koop