Nederburg se Special Late Harvest is heerlik saam met dié unieke kaaskoek van Thuli Gogela
“Isijingi is ‘n tradisionele gereg uit die Zoeloekultuur. Sotho’s noem dit Setjetsa. Dit word gemaak van ‘n mengsel van mieliemeel en pampoen en word bedien op sy eie, as bykos of as ontbytpap,” sê Thuli Gogela.
Sy omskep dit in die heerlikste nagereg iewers tussen kaaskoek, yskastert en pampoentert.
Isijingi-kaaskoek
Bedien 10
200 g (1 pakkie) volgraan- “digestive” beskuitjies
45 ml (3 e) gesmelte gesoute botter
750 ml (3 k) botterskorsie, opgekap
500 ml (2 k) laevetmelk
250 ml (1 k) kookwater
80 ml (1/3 k) snelkook-mieliemeel
80 ml (1/3 k) koue water
90 ml (6 e) ligte bruinsuiker
1 ml sout
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
knypie fyn gerasperde neutmuskaat
230 g bakkie laevet-roomkaas
15 ml (1 e) gelatienpoeier
45 ml (3 e) kookwater
Framboos-compote
375 ml (1½ k) vars frambose, en nog vir garnering
250 ml (1 k) kookwater
45 ml (3 e) suiker
30 ml (2 e) vars lemoensap
Skil van ‘n halwe suurlemoen, fyngerasper
Metode
1 Krummel beskuitjies fyn in voedselverwerker, voeg botter by en meng goed.
2 Smeer losboompan 21 cm in deursnee liggies en druk krummels op bodem vas. Hou in yskas tot benodig.
3 Kook botterskorsie in melk en water tot sag. Plaas deksel skuins sodat dit nie mors nie.
4 Gebruik handmenger om puree van botterskorsie te maak terwyl dit nog in pot is. Maak deeg met mieliemeel en kookwater. Haal pot van stoof af en meng deeg en fyngemaakte botterskorsie saam.
5 Verlaag hitte en plaas pot terug op stoof. Sit deksel op en kook vir twee minute.
6 Haal van stoof af en roer suiker, sout, speserye en roomkaas by.
7 Los gelatien in kookwater op tot glad en voeg by isijingi-mengsel in pot. Hou eenkant.
8 Giet isijingi-mengsel op kors in losboompan, bedek met kleefplastiek en plaas in yskas vir ses uur, verkieslik oornag.
9 Verwyder ring van pan, haal kaaskoek versigtig uit en plaas op bord. Sny in wiggies.
Framboos-compote
1 Plaas frambose, water, suiker, lemoensap en gerasperde suurlemoenskil in kastrol.
2 Bring tot kookpunt, verminder dan hitte en laat bestanddele vir vyf minute prut of tot stroop gevorm het.
3 Haal van stoofplaat af en sit eenkant om af te koel.
Bedien snye kaaskoek met framboos-compote en garneer met vars frambose. Geniet saam met Nederburg Winemaster’s Reserve Special Late Harvest.
Meer inligting
• Besoek www.nederburg.co.za vir meer omtrent die handelsmerk
• Stuur ? e-pos na [email protected].
• Volg Nederburg op Facebook , Twitter en Youtube vir die jongste nuus, gebeure en wyn asook idees vir koskombinasies.