16 porsies
Bestanddele
KORS
437 ml (1¾ k) koekmeel
75 ml (5 e) kakao
knypie sout
200 g botter
75 ml (5 e) ligte bruinsuiker
1 eiergeel
125 ml (½ k) yswater
VULSEL
200 g (1 groot plak) melksjokolade
200 g (1 groot plak) donkersjokolade
200 g botter
500 ml (2 k) room
125 ml (½ k) melk
125 ml (½ k) roomlikeur van jou keuse
5 eiergele
BOLAAG
100 g (1 pakkie) pekanneute, fyn gekap
vars frambose
Metode
Stel oond op 180 °C.
1. Kors: Sif koekmeel, kakao en sout.
2. Vryf botter in koekmeel tot mengsel soos broodkrummels lyk. Roer suiker by.
3. Klits eiergeel en water. Meng by meelmengsel tot deeg vorm.
4. Bedek deeg met kleefplastiek en verkoel 30 min. in yskas.
5. Rol deeg op meelbestrooide oppervlak tot ongeveer 4 mm dik uit en voer gesmeerde quichepan of ronde oondbak met 26 cm-deursnee daarmee.
6. Prik bodem met vurk en bak tertkors blind vir 15 min. Verwyder bakpapier en boontjies. Plaas weer terug in oond vir 5 min.
7. Vulsel: Breek sjokolade in blokkies en plaas saam met botter, room en melk in groot kastrol. Smelt bestanddele oor lae hitte tot glad.
8. Klits eiergele. Klits likeur by tot goed gemeng. Voeg likeurmengsel by sjokolademengsel. Laat nog 2 min. op hitte en gooi sjokoladevulsel in tertkors.
9. Bolaag: Sprinkel pekanneute bo-oor vulsel en bak vir 15 min. of tot net gestol in middel. Tert hoef nie styf in middel te wees nie. Versier met bessies en sit teen kamertemperatuur voor.